MOSSELBAAI NUUS - Ter ondersteuning van Boomplant-maand, nooi die Mosselbaai-munisipaliteit lede van die publiek om deel te neem aan 'n opwindende projek waar 'n spekboom-doolhof vir Heiderand beplan word.
Dit skakel ook in by die vergroeningsplan as deel van die GROEI-strategie.
Na raming word sowat 6 000 steggies benodig om dié doolhof 'n werklikheid te maak. Die munisipaliteit se kweekhuis in die Harry Giddey Park het reeds met die kweek van steggies begin. Tans is daar sowat 1 000 steggies in dié kweekhuis
Lede van die publiek is welkom om enige soort spekboomsteggie gedurende September en Oktober by een van die volgende twee plekke af te gee: die Harry Giddey Park se kweekhuis (aan die dierekant) of by die brandweer se kantore op Groot-Brakrivier.
Indien daar persone is wat groot hoeveelhede steggies het, kan hulle met die munisipaliteit kontak maak om dit af te haal.
Die steggies moet 30cm lank wees en dit kan enige soort spekboom wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’