MOSSELBAAI NUUS - Klein-Brakrivier VLV nooi alle lede en gaste uit na hul volgende byeenkoms wat op Dinsdag, 22 Februarie om 10:30 tot om ongeveer 12:00 in die Rheebok-gemeenskapsaal plaasvind.
Hierdie keer is die immer gewilde kuns- en handvlytbyeenkoms, onder leiding van sameroeper Christa Vreugdenburg aan die beurt.
Daar gaan voorbeelde van houtblokkies wat soos huisies geverf word (blokkies sal te koop wees) gewys word; 'n kinderstorie as inspirasie vir al die ontluikende skrywers voorgelees; idees en tegnieke vir punt-verf (dot art) gedeel en met papierkrale gespeel.
Lede en gaste kan uitsien na voorbeelde van wat alles met papierkrale gemaak kan word. Kyk gerus op Pinterest vir 'n paar idees van hoe die papier gesny moet word om verskillende vorms krale te maak.
Enige papier soos geskenkpapier of selfs koerant- of gewone tikpapier kan gebruik word.
Laasgenoemde word dan geverf om jou eie unieke kleure en krale te maak. Al wat jy benodig om die krale te kom maak is om jou klaar gesnyde papierstrokies, stokkies om dit om te draai en kouelym saam te bring.
Enige tou of dun deurskynende rek kan dan gebruik word om jou projek klaar te maak. Sit solank verf en 'n kwas in 'n mandjie en begin papier sny sodat almal lekker kan saamspeel.
Lede word versoek om elkeen ook 'n donasie van blikkieskos of 'n pak nie-bederfbare droë kos soos rys of macaroni (onder meer) vir 'n gemeenskapsprojek saambring.
Plastiekpoppies kan vir herwinning afgegee word en onthou kleingeld vir lootjies. Kom kuier saam as 'n gas teen R30 per persoon of sluit gerus aan. Jaargelde vir nuwe lede is slegs R240.
Vir meer inligting oor die bedrywighede van die Klein Brak VLV-tak, of om aan te sluit of om bywoning te bevestig, kontak vir Lynette (083 448 5548). Vir meer inligting oor die kuns- of handvlytaktiwiteite kontak Christa (083 391 4145).
Voorbeelde van papierkrale soos wat dit by Klein Brak VLV se volgende vergadering gemaak gaan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'