MOSSELBAAI NUUS - Danksy goeie samewerking tussen lede van die Mossselbaai-polisiestasie en vrywilligers, asook bestuur en werknemers van die Mosselbaai Mall, is 'n negejarige meisie wat onlangs by dié sentrum verlore geraak het, veilig met haar familie herenig.
Een van die parkeerassistente, Gordon Jacobs het die meisie laatmiddag op Vrydag, 31 Januarie in die parkeerterrein naby die Shell-vulstasie sien rondloop en het gesien dat sy huil.
Nadat hy haar gevra het wat fout is, het sy gesê dat sy na haar oupa soek wat glo by die vulstasie brandstof ingegooi het en toe vir haar weggery het.
"Ek het haar in die sorg van my kollega gelaat en probeer kyk of ek die geel motor waarin sy gesê het haar familie was, kon opspoor."
Toe hy geen teken kon sien van die voertuig soos beskryf nie, het hy die sentrumbestuur se kantoor geraadpleeg wat op hulle beurt die polisie gekontak het.
Woordvoerder van die Mosselbaai-polisiestasie, ao Pieter Koekemoer en Charlene Chippe, 'n polisievrywilliger wat slagofferondersteuning bied, het bystand gelewer.
"Ons het baie gesukkel om inligting uit die meisie te kry. Sy was baie verward. Wat ons wel kon uitvind is dat sy uit die Kaap by haar ouma kom bly het, ongeveer twee maande gelede," vertel Chippe.
Met die inligting wat die meisie verskaf het, is Jo-Ann Victor van die Mosselbaai Mall, ao Koekemoer en Chippe op 'n bykans twee uur lange soektog na die meisie se familie. Nadat hulle die JCC-woongebied deurkruis het en oral gevra het of iemand die meisie ken, het hulle uiteindelik by die meisie uitgevind dat haar skoolklere "rooi, grys en wit" is.
"Ons het die afleiding gemaak dat sy in Erika Primêre Skool is. Toe ry ons na die skool toe en net daar, toe wys sy haar huis uit," vertel Chippe.
Die meisie is hierna herenig met haar ouma.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'