MOSSELBAAI NUUS - Berigte ontvang vanaf die misdaadtoneel by Sondag se skietery op 'n plaas buite Brandwag het deurlopend getuig van 'n gespanne atmosfeer.
Hommeltuigoperateurs Jaco Volgraaff, Dewald Lourens en Phillip Vermaak was op die toneel om ondersteuning aan die polisie te bied, totdat die 39-jarige man wat vir die skietery verantwoordelik was, in hegtenis geneem is. Die man se ouers, wat in die plaashuis was toe die skietery vroegoggend begin het, het later vrywillig en ongedeerd die huis verlaat. Hulle het egter deurgaans op die toneel gebly, terwyl die man bykans heeldag skote afgevuur het.
"Ek het gou met my aankoms op die toneel besef waarom ons hulp benodig is. Daar was baie onsekerheid oor wat presies aangegaan het. Die hommeltuie kon hiermee help om te sien waar die skieter is en wat hy by hom gehad het," vertel Jaco Volgraaff. Die hommeltuie is vanaf die veiligheid van Outeniqua-bosch Lodge bedryf waar 'n gesamentlike beheersentrum opgestel is om die situasie te monitor.
Volgens Volgraaff het dit geblyk of die man op alles skiet wat beweeg, hy het ook per geleentheid op die hommeltuie gevuur.
Juan Barnard en Jose Baruch van By Grace privaat ambulansdiens is ontbied om bystand op die toneel te lewer. "Aanvanklik was dit amper 'n bietjie avontuurlik," meen Barnard. Maar hul deuntjie het gou verander toe hulle ambulans raakgeskiet is. Veral toe dit later deur 'n 'n hoë kaliber-vuurwapen getref is juis terwyl iemand in die kajuit gesit het. "Die koeël het 'n smal metaalpaneel langs die ruit getref, enkele sentimeter van 'n insittende se kop af. As dit enigsens meer na links was..." vertel Barnard kopskuddend.
"Toe ons in die grondpad staan, het ons besef ons moet stilstaan omdat die man geskiet het as iets beweeg. Jy het nie geweet presies waar hy is nie. Skote het net aanhou klap. Dis toe dat ons besef het hoe ernstig die situasie is. Hy het ook na die polisie se Nyala-voertuie geskiet," voeg Baruch by.
Hulle is baie dankbaar dat daar geen ernstige beserings was nie. "Ons ore tuit nog en ons het 'n paar keer die week al groot geskrik vir harde geluide."
"Die situasie was spannend, maar groot lof moet aan die polisie en verkeersdienste gaan, wat deurgaans om die huis stelling ingeneem het en die situasie ten volle in beheer gehad het. Hulle kon te enige tyd kragdadig opgetree het, maar het alles denkbaar gedoen om te verseker dat die situasie sonder erge beserings of lewensverlies opgelos word. Selfs tydens die laaste aanslag en toe die man daadwerklik op hulle geskiet het, het hulle selfbeheersing getoon al was hulle deurgaans in gevaar, maar het die man se lewe hoog op prys gestel," het Phillip Vermaak na afloop van die gebeure berig.
By Grace privaat ambulansdiens was saam met polisievoertuie 'n tyd lank op die grondpad vasgekeer terwyl 'n 39-jarige man vanuit 'n plaashuis buite Brandwag op hulle gevuur het.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'