MOSSELBAAI NUUS - Sowat R120 000 per maand moet bestee word aan die skoonmaak en skoon hou van die dorp se stormwaterstelsel. Dit is 'n deurlopende taak wat die afgelope maand weer eens die intensiewe aandag van 'n span van agt werkers geverg het.
Die munisipaliteit moet meestal kontrakteurs wat oor die nodige toerusting beskik kontrakteer om die rommel en afval wat willens wetens deur inwoners in strate en oop ruimtes neergegooi word en uiteindelik in die dorp se stormwaterstelsel beland skoon te maak.
Die werk verg die intensiewe skoonmaak om van stormwatermangate wat in sommige gevalle bykans bek-toe vol vullis is oopgegrawe te kry en die vullis boonop weg te ry, en werk van hierdie aard bring voorkombare uitgawe mee. In ander gevalle is die stormwateruitlate met plantegroei oorgroei en moet skoongemaak word.
Gereeld word groot voorwerpe, selfs motorbande binne die mangate aangetref en verstrop dit die vrye vloei van afvoerwater, wat opsigself in gevalle meebring dat rioolstortings voorkom.
Hoewel mangate in veral die Aslapark gebied gereeld verstop is, word vullis in mangate regoor die groter Mosselbaai aangetref. Met die aanvang van die winterreënseisoen is voorkomend opgetree om te verseker dat die stelsel behoorlik funksioneer. Die munispaliteit doen weer eens 'n beroep op die gemeenskap om nie rommel te strooi nie.
‘n Verstopte stormwatermangat in Vukanistraat in Elangeni is skoongemaak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'