MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai is bekend daarvoor dat daar sonder uitsondering altyd iets unieks aan besoekers en inwoners opgedis word, veral as die organiseerders beplan om letterlik "groot" te gaan.
Met die Soul Festival, 'n eerste in soort wat die naweek van 13 tot 15 Julie in en om Mosselbaai aangebied word, kan besoekers maar van heinde en verre kom om die grootste ooit swartpot in lewende, werkende lywe te sien.
Uniek
Volgens Wikipedia word die swartpot tipies van gietyster gemaak en het dit 'n los deksel. Daar is verskillende groottes wat begin by 1/4. Dan, sê Wikipedia, gaan die grootste grootte tot nommer 25. Vir die gemiddelde gesin van 4 tot 6 mense is 'n nommer 3-pot voldoende. Die tipiese swartpot is verkrygbaar met 'n ronde bodem met drie pote, of met 'n plat bodem sonder pote.
Die ou dae se nommer 33-seeppotte, self enorm, is egter piepklein teen die Soul Festival se eie swartpot.
Duidelik het Wikipedia 'n nuwe hoofstuk oor die swartpot te skryf, veral ná die Soul Festival wanneer die grootste swartpot sover bekend, die allemintige nommer 760, tydens die fees gebruik gaan word om die lekkerste sop voor te berei, boonop vir gratis verspreiding aan minderbevoorregtes. Nog nooit is só 'n groot swartpot tydens een byeenkoms ingespan om gratis sowat 6 000 mense kos te gee nie.
Die pot is die eerste keer deur die vorige eienaar, Peet Groenewald in 1996 in gebruik geneem en hy sal self kom hand bysit wanneer die grootskaalse sopkokery op die feesterrein plaasvind. Almal is welkom om self te kom sien hoe dit gedoen word.
Padskraperlemme
'n Meganiese toestel wat uit die onderdele van verskillende motorfabrikate bestaan, is gemaak om die kos binne die pot te kan omroer. Wanneer die slinger aan die buitekant van die pot gedraai word, word die kos binne-in met padskraperlemme geroer.
"Die pot weeg meer as 2.5 ton, met 'n deursnee van twee meter. Dit was 'n enorme taak om dit tot hier vervoer te kry en Cobra Transport word van harte bedank vir hul hulp in hierdie verband. Nou word dit sorgvuldig voorberei vir die Soul Festival," sê Marika Thomatos, wat ook deel van die stukrag agter die fees is.
Die pot weeg meer as 2.5 ton, met 'n deursnee van twee meter.
Borge
Die groot pot gaan gebruik word om sop by die feesarena voor te berei, en borge wat sou belangstel om deel van hierdie projek te wees, is welkom om Marika direk by marika@munromanor.com te kontak. Hoewel die feesarena by die ou kragstasie op Santosstrand gesetel gaan wees, sal talle restaurante in en om Mosselbaai, hulle beste aanbiedinge tydens die fees voorsit. Die program gaan werklik iets vir almal, oud en jonk bied. Boonop is spesiale reëlings getref om veilig na en van restaurante te reis.
Die enorme swartpot vorm egter die sentrale fokuspunt van die fees met onder meer die Pot-aan-die-kook-konsert, waarby talle plaaslike en groot name in die musiekbedryf betrek word.
Hierbenewens sal interessante kospraatjies deur onder meer Ina Paarman en ander, verseker die fynproewers se belangstelling wek, terwyl 'n filmfees wag op diegene wat uitsoek vermaak geniet.
By die feesarena sal die geurigste, lekkerste koffie, koudste en voortreflikste wyne, jenewer en boetiekbier die smaaklikste eetgoed goed komplimenteer.
Dagboek
Boonop, anders as in die res van die land, is toegang tot die Soul Festival gratis. Dagboek dus nou reeds 13 tot 15 Julie, nooi vriende en familie-oudergewoonte gaan hierdie 'n fees der feeste wees.
Lees 'n vorige artikel: Soul Fest offers many highlights
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'