MOSSELBAAI NUUS - Twaalf weke gelede het 'n haarstilis van Mosselbaai 'n lewensveranderende besluit geneem toe sy besig was om haar huis in Aslapark skoon te maak.
"Terwyl ek aan die skoonmaak was, het daar nie minder nie as nege mense verbygekom wat vir my kos gevra het," vertel Ignacia Solomon vandeesweek, 12 weke nadat sy die CDC Shepherd Soup Kitchen begin het.
Sy het van die begin af besluit, 12 weke, dis hoe lank sy gaan wag en kyk of sy die pyp rook met die volhoubaarheid van haar projek, voor sy dit in die publieke oog, spesifiek die media sit.
"Ek het by die nege mense begin en vandag is daar 200 mense wat Maandagmiddag opdaag vir iets te ete." Ignacia vertel dat hierdie projek haar eindelose vreugde gee. "Baie van die kinders veral, kom al vroeg en kom wag vir hulle kossies. Dis vir my so lekker om dit vir hulle te kan doen."
Sy sê dis haar missie en visie, om vol te hou met die sopkombuis totdat sy die dag nie meer kan nie. "Daar is baie verlore skapies wat honger is en 'n herder kan help om hulle te voed."
Vir meer inligting oor Ignacia se projek, skakel haar (076 024 8943).
Baie van die kinders staan al van vroeg af tou om hulle kos te ontvang. Getalle het in 12 weke van nege na 200 gegroei.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'