Update
MOSSELBAAI NUUS - Trevano Abrahams (8) het gesorg dat hy in baie se harte inkruip, van familie en vriende, tót die personeel by sy skool.
Al dié mense moes tragies onverwags van hul geliefde Trevano afskeid neem ná hy Saterdag, 18 November, in 'n dam by Diepkloof (naby Sinksabrug) naby sy huis verdrink het.
Volgens die polisie op Groot Brak, het hy en sy 15-jarige boetie, Shulaiman, gaan water skep by die dam. Die boetie het na bewering een emmer water huis toe geneem terwyl Trevano by die dam gewag het. Toe hy weer by die dam aankom was Trevano nêrens te sien nie.
Die nodige dienste is na die area ontbied waarna die duikeenheid Trevano se liggaam uit die water gehaal het.
Sy ma, Roliana sê sy het nie woorde ná sy afsterwe nie. Hy was een van vier boeties, Ashley (18), Shulaiman (15), dan Trevano en dan sy jongste boetie, Janovan, wat 4 jaar oud is. Hulle pa is in 2021 aan longkanker oorlede.
"Trevano was baie stil, maar ook vol energie. Hy het baie van uitdagings gehou en was altyd opgewonde oor die buitelewe en die natuur," sê sy.
Hy het maklik gekla as sy broers hom kwaad maak, vertel sy, maar het hulle tog altyd goed gepraat wanneer hulle die keer moes raas kry.
"Hy sal beslis baie gemis word in die huis, maar ons troos ons met die goeie herinneringe van hom en ons weet ook die Here ken net die beste. Mag sy engelhartjie in vrede rus."
Trevano se beste vriend, Wilbrun Fielies, sê hy weet nie waar hy nog so 'n vriend gaan kry nie. "Ons het die beste tye ooit saam gehad. Ons het saam geswaai, saam tol gespeel, vroeg opgestaan net vir saam cartoons kyk, saam trampoline gejump... Ons het letterlik alles saam gedoen, want hy was my beste vriend.
"Trevano, ek gaan jou verskriklik mis my vriend en ek het jou ontsettend lief."
Sy juffrou by Diepkloof VGK Primêre Skool se assistent, Chaney Isaacs, het ook 'n spesiale plekke in haar hart vir dié jong seun gehad.
"Trevano, my sonskynkind. My hart is stukkend. Ek sal jou altyd onthou as daardie kind met die stout glimlag en groot hart. Onsettend lief vir jou."
Shulaiman, Trevano, Janovan, Roliana en Ashley Abrahams.
Roliana en Trevano Abrahams.
Die vier boeties, Ashley, Shulaiman, Trevano en Janovan Abrahams.
Trevano Abrahams en sy jonger boetie Janovan.
Vorige artikel: Agtjarige verdrink in dam
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’