Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Motorfietsryers landwyd het Saterdag, 29 Augustus vir 'n aandoenlike byeenkoms gesorg toe hulle in groot getalle byeengekom het in protes teen plaasmoorde. Groot byeenkomste in Pretoria en Kaapstad het die meeste aandag getrek. By laasgenoemde, wat ook deur plaaslike lede van die Mac's-motofietsklub bygewoon is, is berig dat polisie met motofiersryers slaags geraak het. Die onderonsie het wyd op sosiale media kommentaar uitgelok.
Plaaslik het motorfietsryers by die Mosselbaai Mall byeengekom om hulle aan te sluit by groepe van oral oor die Tuinroete en Klein Karoo wat in George byeen sou kom.
Die deelnemers uit Mosselbaai het die wind en weer vroegoggend trotseer en van daar saam op die N2 na George gery.
Een van die plaaslike deelnemers, Lee Roy Prinsloo het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hy die protes teen plaasmoorde heelhartig ondersteun. "Ons stem nie daarmee saam nie. Die regering moet wakkerskrik. Hierdie ding is groter as Covid-19 en ons moet saam werk om dit tot niet te maak. As ons nie boere het nie, het ons nie kos nie."
Nadat al die groepe op George bymekaargekom het, het hulle na die parkeerterrein voor Checkers in Yorkstraat beweeg waar hulle saam gebid het.
Kristy Kolberg van die George Herald berig dat sowat 250 motorfietsryers aan die bewusmakingsveldtog deelgeneem het.
'n Video van die Mosselbaaiers se deelname aan die bewusmakingsveldtog het teen Maandagmiddag reeds 3 700 trefslae op sosiale media gehad.
Kyk 'n video hieronder:
'n Boer van Groot-Brakrivier, Hennie Booyens wat in Julie ook 'n plaaslike byeenkoms teen plaasmoorde gereël het wat nasionale nuus gemaak het, het weer sy steun aan die veldtog toegesê. "Ons moet net vasstaan en ons punt maak, sonder om moed op te gee," het hy Saterdag gesê.
Motorfietsryers byeen voor die Mosselbaai Mall. Foto: Grey Stopforth
Sowat 250 motorfietsryers vanoor die Tuinroete het Saterdagoggend in solidariteit teen plaasmoorde en rassisme bymekaargekom.
Die ysterperde op die N2 van Mosselbaai op pad na George.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'