MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se munisipaliteit is daarop ingestel om effektiewe en volhoubare dienste aan die groter Mosselbaai-gemeenskap te lewer en probeer altyd so spoedig moontlik op klagtes en/of probleme oor dienslewering te reageer.
Die munisipale kontaksentrum ontvang egter soms versoeke wat nie hul funksie of verantwoordelikheid is nie. Vir baie van die probleme moet die eienaar of okkupeerder self, of ander instansies, die aanspreeklikheid aanvaar.
Rioolverstopping
• Die hantering van rioolverstoppings op private eiendom is nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid nie. Die eienaar of okkupeerder moet dus privaat loodgieters gebruik om aandag te gee aan rioolverstoppings op privaat eiendom. Die munisipaliteit se tegniese afdeling kan gekontak word om rioolverstoppings op privaat eiendom te hanteer, maar sal dan 'n tarief op die munisipale rekening hef vir hierdie diens.
Lekkende pype
• 'n Lekkende waterpyp op 'n privaat-eiendom is die eienaar se verantwoordelikheid. Die eienaar moet daarom van 'n privaat loodgieter gebruik maak om dit reg te stel.
• Na-ure klagtes oor bruin water word nie as lewensgevaarlik geag nie en sal dus die volgende dag aandag geniet.
Brandweerdienste
• Die Mosselbaai-brandweer is 24-uur aan diens en hul funksies sluit randbestryding, rampbestuur, die hantering van ongelukke, en so meer in.
Verkeersdienste
• Munisipale verkeersdienste hanteer verkeersoortredings en die wetstoepassing van munisipale verordeninge. Dié verkeersdienste is nie deel van die SA Polisie nie en kan nie namens hulle optree nie.
Hantering van rampe
• Die munisipaliteit hanteer rampe en sal waarskuwings wanneer nodig uitstuur.
Sportvelde en gemeenskapsale
• Die gemeenskap moet vooraf die gebruik van sportvelde en/of gemeenskapsale bespreek.
Die fasiliteite mag tydens rampe gebruik word vir huisvesting.
Protesoptrede of onluste
• Die SA Polisie is verantwoordelik om wet en orde te handhaaf. Die munisipaliteit kan slegs binne die wetlike raamwerk optree.
Elektrisiteit/krag
• Krag word, indien nodig, bedags afgesny en kan dieselfde dag weer herstel word mits agterstallige betaling gedurende kantoor-ure ontvang word.
Indien 'n elektroniese oorbetaling gedoen word, sal die kragtoevoer slegs herstel word wanneer die betaling in die munisipaliteit se bankrekening toon.
Vir navrae en probleme kontak die munisipaliteit (044 606 5000), stuur 'n e-pos na admin@mosselbay.gov.za of SMS die klagte na 44802.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'