MOSSELBAAI NUUS - As jy die sogenaamde winterblues wil klop en boonop 'n laaste bietjie pret wil hê voor die derde skoolkwartaal volgende week begin, is hierdie naweek se lankverwagte Soul Festival net die plek om te wees.
Soos Mosselbaai se bekende dorpsfeeste, is ook hierdie geleentheid gratis en bied dit voorwaar letterlik iets vir elke smaak aangesien juis die kulinêre kant van die lewe in die kalklig is. Daarmee saam sal die veelvoud kospraatjies wat deur baaskokke aangebied word behoorlik die winter warmte terugbring in enige futlose kombuis.
Feesgangers wat by die Ou Kragstasie by Santos, die amptelike feesterrein, 'n draai gaan maak kan uitsien na uitstekende vermaak so saam met alles wat te proe, te ete en te drinke gaan wees. Aan verskeidenheid jenewer, wyn, bier, asook koffie en tee om te proe, sal daar geen tekort wees nie.
Die fees open vanmiddag amptelik om 13:00, waarna met 'n boekbespreking met plaaslike skrywers later vanmiddag plaasvind. Hierna volg 'n program propvol die allerbeste vermaak deur plaaslike kunstenaars sowel as ander groot name in die musiekbedryf, terwyl bekende koskrywers ook 'n aantal praatjies sal lewer.
Vir diegene wat uitsien na meer avontuur verder weg vanaf die feesterrein, is daar voorafbeplande roetes na verskeie deelnemende restaurante wat tydens die fees aantreklike spesiale aanbiedinge het. Die rooi, pers, oranje en groen roetes bied môre, 14 Julie en Sondag, 15 Julie vervoer na 'n verskeidenheid restaurante tot sover as Groot-Brakrivier. As jy nog nie die Diaz Express probeer het nie, maak vandag, 13 Julie en môre, 14 Julie seker dat die geleentheid nie weer verbygaan nie.
Met die grootste gietysterpot, 'n no 760 sedert Woensdag in plek op die feesterrein, gaan dinge in soveel woorde "kook" môre. Dié pot gaan tydens die Soul Festival waarskynlik 'n wêreldrekord opstel deur die grootste hoeveelheid sop op een slag op te dis vir minderbevoorregtes. Nuuskieriges wat wil sien hoe dié prestasie bereik word, sal beslis nie verveeld wees nie en kan heeldag lank die Pot aan die prut hou-konsert bywoon.
Kyk ook weer eens uit vir bekende koskenners en sjefs wat demonstrasies aanbied.
Vir meer inligting oor hierdie uitgebreide en aantreklike program, kyk uit die vir spesiale feesbylae beskikbaar of besoek www.soulfestival.co.za vir al die besonderhede.
Sien die volledige program hier.
Lees 'n verwante artikel: Renette 'rooitamatie' Vosloo by Soulfest
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'