MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaier, Marizaan Burger (14), dogter van Righardt en Katri Burger het onlangs ingeskryf vir die ATKV se landswye entrepreneurskompetisie van 2020 en is as die wenner aangewys.
Sy het die kategorie vir deurlopende entrepreneur wat heeljaar sy besigheid bedryf gewen. Hierdie tiener van Bayview op Hartenbos ontvang tuisonderrig en word deur haar familie beskryf as 'n ware entrepreneur.
Leerders landswyd tussen graad 1 en graad 12 het aan die kompetisie deelgeneem. Sy het begin deur van haar vrye tyd tydens die inperking gebruik te maak en het met resepte-idees geëksperimenteer. So het Marizaan's Meringues ontstaan.
Dit is egter nie sommer net enige gewone skuimpie nie, maar 'n besonderse skuimpie in die lekkerste geure denkbaar, aldus haar pa. Marizaan se skuimpies is in 'n ellelange lys van verskillende geure beskikbaar. Dit sluit in borrelgom, toffie, kaneel, bloubessie, koffie en selfs lemmetjie.
"Ek het vir my ouers gevra om vir my 'n kilogram suiker te koop en eiers en so het ek begin. Ek het ook vir hulle gesê ek sal hulle terug betaal vir die aankope wat hulle gedoen het."
'n Plaaslike apteek op Hartenbos was haar eerste kliënt en daarna het verskeie winkels gevolg. Marizaan beskryf haarself as 'n vrolike, vriendelike besigheidsvrou wat 'n goeie voorbeeld kan wees vir jongmense in Suid-Afrika wat 'n negatiewe situasie, soos die inperking, in 'n positiewe ervaring kan omkeer deur 'n bietjie inisiatief aan die dag te lê en deur hardwerkend te wees.
Marizaan Burger besig om haar skuimpies te maak.
Marizaan Burger met haar skuimpies.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'