Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Pas nadat hy op die Mossel Bay Advertiser se voorblad gepryk het vir sy aandeel in die verskyning van die NSRI Stasie 15 se Goue Jubileum-boek op 1 Mei vanjaar, is dr Jopie Coetzee weer in die nuus. Hierdie keer met 'n perd van 'n gans ander kleur.
Coetzee het sy hand as dramaturg gewaag en het die afgelope naweek aan die KKNK se eerste Teksmark wat op Oudtshoorn gehou is, deelgeneem.
Teksmark vind jaarliks in die Baxter-teater in Kaapstad plaas, maar vanjaar is dit op Saterdag, 29 Mei in die tuiste van dié immergewilde kunstefees aangebied.
Aspirant-skrywers van Oudtshoorn en omstreke het hul vir verhoogtekste voorgelê gedurende hierdie soektog na nuwe talent.
Die aanbieders van Saterdag se Teksmark wat in die Burgersentrum gehou is, was akteur en skrywer Ilse Oppelt en Hugo Theart, die artistieke direkteur van die KKNK.
Sewe uittreksels van splinternuwe tekste is as leesteater aangebied. Die sewe skrywers is gekies ná 'n skryfwerkwinkel wat in April deur die bekroonde dramaturg en regisseur Neil Coppen aangebied is.
Coetzee het sy dramateks, Die Aangeraaktes gegrond op 'n hoofstuk uit sy Paasroman, Aangeraak in die maalstroom van die Paasgebeure. Die teks wat hy voorgelê het, handel oor die ouers van Judas Iskariot en hulle wroeging en teleurstelling na sy verraad en uiteindelike selfdood. Die fokus vir Saterdag se optrede was op Judas Iskariot se ma, vertolk deur Cornelle Carstens, joernalis en 'n bekende op plaaslike verhoë.
Coetzee het deur sy teks 'n empatiese blik gegee op die wroeging van die wat agterbly na selfdood en ook die konsep uitgedaag dat selfdood 'n "stilbly-tema" is waaraan daar steeds 'n stigma kleef.
"Julle twee het 'n moeilike saak saggies hier tussen ons kom plaas. Dit is so 'n roerende menslike drama, met egte menslike emosies wat ons almal deel. Dit kos 'n fynproewer om so sekuur die mens in sy volheid te ontbloot Die toneelspel het my asem weggeslaan. Die empatie het my oorweldig. Die stem en die teks is vir mekaar bedoel," het een van die teatergangers, Johan Boesak na die vertoning gesê.
Hannes Visser, redakteur van die Advertiser se susterpublikasie, Oudtshoorn Courant is ook een van die gekeurdes met sy teks, Kruger Miljoene.
Cornelle Carstens as die ma van Judas Iskariot.
Antoné Adlam, regisseur en dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch, saam met dr Jopie Coetzee, skrywer van Die Aangeraaktes en Cornelle Carstens wat een van die rolle in sy drama vertolk het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'