Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Apteker van Danabaai, met 'n voorliefde vir gedigte en wat sedert haar skooldae 'n dagboek hou, meen dat jy spasie in jou brein maak wanneer jy goed neerskryf.
Volgens Elna Joubert is sy in die digkuns gebore.
Haar oupa het 'n voorliefde vir rympies maak gehad en haar ouers het baie vir haar voorgelees. Sy glo hierdie vroeë blootstelling het haar voete ferm om die skryfpad gesit.
Hartsgoeters
Hoewel sy aptekerswese aan die destydse Universiteit van Potchefstroom geswot het, het sy aan 'n uitgelese groepie studente behoort wat deel van 'n skrywerskring was. Die digter Jan Swanepoel was saam met Elna in hul studentedae deel van hierdie groep gewees.
Hoewel sy deur die jare aanhou dig het, het sy nooit sover gekom om al haar werk te publiseer nie. Inteendeel, toe haar man haar nege jaar gelede skielik ontval, het sy al haar gedigte verbrand.
"Ek is nogal baie spyt hieroor. Wie weet, dalk sou ek iets daarvan weer kon afstof en gebruik." Sy vertel dat sy vanjaar weer in alle erns begin dig het, nadat 'n liefdesverhouding skeefgeloop het. Sy skryf vanuit haar eie verwysingsraamwerk en ook, vanuit haar pyn, beken sy. "Ek skryf oor hartsgoeters, want dalk lees iemand dit en voel ook soos ek voel. Ek skryf oor daardie pyn wat net tot by jou oë kom, die pyn wat nie oor jou lippe kom nie."
Haar dagboek het sy op 13-jarige ouderdom begin en na haar universiteitsjare ophou skryf. Dít het sy weer hervat in 2004 en sy hou steeds daagliks daarmee vol.
Skryf meen sy, is ideaal as jy 'n klarigheid oor iets moet kry. "As jy dit op papier sit, kry jy finaliteit daaroor. Jou kop sê vir jou dis afgehandel, al het jy niks fisies daaromtrent gedoen nie. Jou brein kan dus aan iets nuuts begin werk."
Kyk 'n video hieronder:
Effektiewe terapie
Die Mossel Bay Advertiser het kliniese sielkundige, Tjaart van der Walt gepols oor die terapeutiese waarde van skryf, veral terwyl dit blyk dat die Covid-19-pandemie negatief op mense se geestestoestand inwerk. Van der Walt sê dat die skryf van briewe en lewensstories baie effektief in psigoterapie gebruik kan word.
"Skryf laat emosies verwater en is baie effektief in die verwerking van verlies. Dis 'n manier van afskeid neem en dit alleen, veral wat verlies betref bring groot verligting." Van der Walt sê dat dit nie net betrekking het op die dood nie, maar selfs wat die verlies van 'n ledemaat betref of in geval van 'n verhouding of persoon wat jy moes afskryf.
Hy maak dit egter duidelik dat veral briewe nie geskryf moet word met die intensie om dit aan iemand te stuur nie. "Verbrand dit en skep 'n lewende monument, soos om dalk die as te begrawe en 'n boom daarby te plant."
Hy noem dat veral in die huidige omstandighede waar mense groot kommer ervaar vanweëCovid-19, is die maak van lysies nuttig. "Iemand wat sukkel met angstigheid kan 'n soort kommerboek begin. Jy maak dis 'n kommerlysie. Skryf al jou bekommernisse neer en gee jouself 'n bepaalde tyd van die dag waartydens jy al jou aandag aan jou kommerboek bestee. Bedink dan elkeen, besluit hoe jy dit wil hanteer en neem die besluit om nie weer daaraan te dink nie. Die afmerk van 'n lysie, skep 'n gevoel van beloning."
Die skryf van 'n lewensverhaal, meen Van der Walt is ook effektief veral wanneer moeilike tye beleef word. "Dis soos om 'n ui af te skil. Soos jy voortgaan, kom nuwe dinge na vore. Daar kom 'n balans tussen goed en sleg."
Van der Walt sê egter dat nie alle traumas bloot oor geskryf kan word nie en daarom is ander terapie ook noodsaaklik. "In ernstige trauma, kan om bloot net daaroor te skryf, ook die persoon hertraumatiseer."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'