GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Op 21 Desember vanjaar sal Groot-Brakrivier se inwoners en vakansiegangers om 20:00 oorkant die polisiekantoor in Langstraat 'n skouspel van drywende kerse en verligte meiboom (maypole) van boodskappe kan geniet.
Tydens 'n windstil aand in 2016 is die eerste Light & Lanterns-projek met bykans 700 drywende kerse omring deur blomme te water gelaat.
Klein en groot het hulle verstom aan die drywende kerse op vlotte.
Vanjaar word families van besoekers en inwoners genooi om vroegaand met komberse en piekniekmandjies langs die rivieroewer bymekaar te kom, in afwagting vir die drywende vlotskouspel op water. Daar gaan gepoog word om bykans 1 000 kerse aan te steek.
Vir 'n oomblik kan die gewoel van inkopiesentrums, die gejaag na die volgende opwindende bestemming op die agtergrond geskuif word. In die rustige atmosfeer van sonsondergang kan gesels en gereflekteer word op die jaar se uurglas wat uitloop.
Boodskapkaartjies en kerse sal teen R25 beskikbaar wees by Total Groot-Brakrivier asook die plaaslike Groot Brak Mark met ingang van Desember. Hierdie boodskappe en kerse kan dan op die aand gehang word aan die verligte meidoom en kerse kan in houers geplaas word.
Navrae kan gerig word aan Laurinda Smit (082 738 8011).
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'