MOSSELBAAI NUUS - 'n Skoonmaakoperasie langs die treinspoor wat verlede Vrydag onder leiding van die Speaker, raadsheer Petru Terblanche van stapel gestuur is, het hierdie week tot die voordeel van 'n jong toeris gelei.
Vandeesweek het 'n paar lede van die DA voortgegaan om die rommel wat langs die treinspoor die wêreld ontsier op te tel.
Baie naby aan die Langeberg Mall het Roche van Wyk en haar span werkers egter op 'n aantal kaarte, waaronder 'n studentekaart en mediese fonds-kaart afgekom.
Die mediese fonds-kaart het die familie se identiteitsnommers vertoon.
Roche het hierdie nommers op die party se stelsel geverifieer en die jong student se ma uiteindelik in Krugersdorp opgespoor.
Die kaarte is intussen aan familie oorhandig wat dit op hul beurt met die regmatige eienaar sal herenig.
"Roche het werklik moeite gedoen om die kaarte op te spoor, te beveilig, die regmatige eienaar op te spoor en toe seker te maak dat dit veilig in die regte hande beland.
"Sy het veel meer gedoen as wat van haar verwag kan word. Ek sê dankie, knap gedaan," aldus raadsheer Terblanche.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'