MOSSELBAAI NUUS - Vir die sewende agtereenvolgende jaar, sal behoeftige skoolkinders 'n nuwe paar skoene ontvang met aanvang van die skooljaar in 2019.
Dit, danksy oud-Mosselbaaier Curt Baker se verjaardsdag. Baker verjaar in Januarie en samel die afgelope paar jaar skoolskoene in om in sy verjaarsdagmaand aan skoolkinders te skenk.
Oor die jare, het hy met behulp van sosiale media, groter ondersteuning vir die projek gekry en gevolglik kan hy nou ook kinders in Delft, Kaapstad help.
Baker woon tans in Kaapstad waar hy as handelsmerkbestuurder vir 'n tydskrif werk.
Meer as 250 kinders het al baat gevind by hierdie projek.
In Mosselbaai kan skenkings afgelaai word by Dial Brandstraat 34, Uitbreiding 6 of kontak Pam (044 690 7312).
"Ek wil graag vir almal dankie sê wat altyd skoolskoene skenk, want sonder hierdie gebaar is die sukses van die projek nie moontlik nie," sê Baker.
Curt Baker brei sy skoolskoenprojek nou ook elders uit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'