MOSSELBAAI NUUS - Op Vrydag, 12 Augustus het Laerskool Hartenbos die skool se nuwe speelpark, Pikkie Parkie geopen. Die parkie is ter nagedagtenis aan die voormalige beheerliggaam-voorsitter, Bertus du Toit.
Du Toit was ‘n bekende prokureur en inwoner van Mosselbaai en is op Woensdag, 6 Oktober, 2021 oorlede. Die naam, Pikkie Parkie is tydens die skool se spesiale saalbyeenkoms bekend gemaak.
‘n Juffrou van die skool, Lynda Kuyler het die naam van die speelpark uitgedink en die meeste stemme daarvoor verwerf.
Skoolhoof, Werner van Huyssteen het tydens die saalopening vir leerders gesê Du Toit was baie entoesiasties oor die ontwikkeling van die parkie.
“Ons is nou nog hartseer oor oom Bertus wat nie meer deel is van ons nie, maar ons is ook dankbaar dat oom Bertus by ons ‘n nalatenskap laat. Hy het ‘n nalatenskap by ons gelaat wat ons altyd vorentoe kan eer en kan sê hy was ons voorsitter en hy was die ou wat ons op die pad gesit het om onder andere die parkie te ontwikkel.” Du Toit se vrou, Cerica du Toit het ook die geleentheid bygewoon en het gehelp om die naam van die skoolparkie te onthul.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'