MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie het onlangs by verskeie plaaslike skole aangedoen in 'n poging om van skoolterreine 'n veilige plek te maak.
Tydens die besoeke, het beide vroue- en manslede van die polisie leerders asook hulle skooltasse deursoek. Skoolpersele is ook voordat leerders opgedaag het deeglik gefynkam.
Die inisiatief is van stapel gestuur op versoek van die skole se personeel en bestuur ten einde veiligheid van leerders in die hand te werk.
Tydens van die besoeke is daar ongewenste items, soos dwelms gevind en gekonfiskeer. Daar is ook vasgestel en seker gemaak dat geen gevaarlike wapens in leerders se besit of op die skoolterrein teenwoordig is nie.
Volgens kapt Wollie Fourie, sal soortgelyke deursoekings in die toekoms sonder waarskuwing by plaaslike skole gedoen word. Die inisiatief is in samewerking met die gemeenskapspolisieforum aangebied.
"Hierdie veldtog het ten doel om gunstige omstandighede te bewerk waarin leerders van goeie onderrig verseker kan wees," sê kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'