MOSSELBAAI NUUS - 'n Man is die afgelope naweek in die Endlovini informele woongebied in KwaNonqaba doodgeskok.
Aybanga Ngatwani (24), is in die vroeë oggendure om 01:07 van Sondag 17 November dood aangetref by een van die vele kragpale waar krag onwettig van deur 'n sambreelnetwerk getrek word.
Volgens inligting is 'n dooie hond ook naby die lyk gevind.
Daar kon aanvanklik nie bevestig word of die man doodgeskok is en of hy moontlik aan ander oorsake of 'n misdaad dood is nie, aangesien daar geen sigbare wonde of branmerke op die toneel aan hom gevind is. 'n Nadoodse ondersoek het egter sy dood bevestig dat hy doodgeskok is.
Die steel van krag deur onwettige elektrisiteitskoppelings vanaf kragbokse of kragpale, selfs lamppale is 'n groot kopseer vir kragverskaffers. In van die informele woongebiede van KwNonqaba, is daar in die verlede verskeie kere opgetree teen die oortreders.
Tydens optredes is onwettige elektrisiteitskoppelings verwyder, net om kort daarna weer dieselfde netwerk van drade aan te tref.
Volgens 'n senior kommunikasie- en bemarkingsbeampte van die Mosselbaai-munisipaliteit, Nickey le Roux, sal die gesondheids- en veiligheidsbeampte van die munisipaliteit ook 'n ondersoek gaan doen rondom die beweerde voorval in die Endlovini-woongebied.
Onwettige elektrisiteitskoppelings soos hierdie is 'n gereelde gesig in die informele woongebiede. Foto's: Jannie du Plessis
Lees 'n verwante artikel: Mayor offers condolences
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'