MOSSELBAAI NUUS - Gemeenskapsleiers in Herbertsdale het hul skok uitgespreek nadat op polisie-uitrusting, dokumentasie en inligting afgekom is in 'n huis wat na bewering reeds jare nie meer bewoon of gebruik word nie.
Benewens 'n polisie-glimbaadjie, 'n koeëlvaste baadjie, twee gepantserde helms wat tipies deur die polisie se openbare orde-eenheid gebruik word, is polisiekentekens, 'n polisiesakboekie, asook verskeie ander polisiedokumente en onvoltooide polisiedossiere tydens 'n besoek aan Herbertsdale aan die Mossel Bay Advertiser getoon.
"Die eienaar van die huis het op Herbertsdale gewoon maar het geruime tyd gelede reeds na George verhuis. Sover bekend is hy steeds 'n polisielid en verbonde aan 'n polisiestasie in die Da Gamaskop-polisiesone," het Elvin Booysen, 'n gemeenskapsleier aan die Advertiser gesê. Volgens lede van die gemeenskap was die huiseienaar onlangs in Herbertsdale maar het hy nie die huis besoek nie.
Booysen vertel dat hy iemand in die omgewing van die huis waar die uitrusting en dokumente gevind is, gaan help het toe op die goed afgekom is.
Polisielede word uitgereik met sakboekies waarin opdragte asook optrede daagliks aangeteken en deur senior offisiere nagesien word. Dikwels dien inligting wat in sakboekies opgeneem word, as getuienis voor die hof.
Kommer
"Ons grootste kommer is dat dit wat hier opgespoor is, in 'n huis waarvan die voordeur oopstaan en 'n venster gebreek is, in die hande van kriminele kon beland. 'n Misdadiger sou hom maklik kon voordoen as 'n polisielid.
Verskeie rankentekens asook polisie-identiteitswapens, asook dokumente waarder bedekte optrede gemagtig word, is opgespoor.
Ons hoor daagliks van kapings, van gewapende roof. Dink watter voordeel 'n gewapende rower met die polisie se koeëlvaste baadjie bo wetstoepassers wat hom probeer aankeer sou hê," sê Booysen. Só 'n voorval sal die polisie se beeld 'n gevoelige slag toedien, meen Booysen wat self vantevore 'n polisielid was.
Hy spreek sy kommer uit oor die waarskynlikheid dat ander uitrusting of dokumente deur niksvermoedende persone, veral kinders van die huis verwyder kon word.
"Daar is vertroulike inligting vervat in heelwat van die aantal amptelike dokumente wat opgespoor is. Daar is name bekend van mense wat steeds hier woon. 'n Polisielid gebruik tipies die inligting vervat in 'n amptelike sakboekie vir onder meer getuienis in die hof - wie weet of daar nie nog sakboekies was nie? Lede skryf hul direkte opdragte daarin. Sakboekinskrywings word deur senior lede nagesien en afgeteken. Tussen die dokumente is inligting, hoewel oud, oor gemagtigde bedekte optredes. Sommige dokumente is deur senior polisielede onderteken. Dit is nie inligting wat in die openbaar hoort nie en nie in privaatbesit in 'n onbewoonde, verwaarloosde huis behoort gelos te word nie."
Benewens polisiedokumentasie is afgekom op identiteitsdokumente van onbekende persone asook 'n ID van die vermeende polisielid wat in die huis gewoon het. Sertifikate van opleiding wat die lid ondergaan het - onder meer in skarebeheer - is tussen die stapels papiere.
Die bevelvoerder van die KwaNonqaba-polisiestasie, lt kol Azisa Madongana (regs) en sers Ella Mentoor ondersoek die stukke voordat daarop beslag gelê is.
Kommentaar
Volgens die woordvoerder van die KwaNonqaba-polisie, sers Kapp, is 'n navraag na die voorval deur die KwaNonqaba-polisie geopen en sal verdere stappe volg afhangende van die resultate van dié navraag.
Die KwaNonqaba-polisie se bevelvoerder, lt kol Azisa Madongana en ondersoekbeamptes sersante Mentoor en Campher het laat Maandagmiddag Herbertsdale besoek en beslag gelê op onder meer die uitrusting en dokumentasie wat in die gemeenskapsleiers se besit was.
Die sakboekie, glimbaadjie, dossier, helmet en wapenholster. 'n Sertifikaat van 'n kursus in skarebeheer is ook gevind. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'