Teen druktyd het die Suid-Afrikaanse Leerindustrie Assosiasie (SAFLIA) 'n 7.75% verhoging aan stakende werknemers, sowel as 'n ekstra vakansiedag bonus gebied.
Die koördineerder van die stakers, Jo-Anne Volkwyn, het gesê hulle gaan die aanbod aanvaar. Die aanbod moet egter nasionaal aanvaar word voordat die staking finaal tot 'n einde sal kom.
"Plaaslik is ons tevrede met die aanbod wat SAFLIA gemaak het. Indien die aanbod nasionaal aanvaar word, gaan ons teen Maandag amptelik begin werk. Indien nie, gaan die staking voort," sê Volkwyn.
Die werknemers behoort aan die leerwerkersvakbond (NULAW).
80% van skoenfabrieke wat in die leerbedryf handel, is deur die staking geraak. Ongeveer 100 fabrieke was tot dusver deel van die staking.
Alhoewel die staking voor die Watson Skoenfabriek meestal vreedsaam verloop het, het polisielede van die Groot-Brakrivier SAPD die afgelope week agt mense vir oproerigheid gearresteer. Vervoertrokke se deurweg is deur stakers blokkeer en die trokke moes noodge-dwonge omdraai.
SAFLIA het geweier om kommentaar te lewer. Mnr Ray Oosthuizen, die bestuurder van menslikehulpbronne by die Watson skoenfabriek, het gesê daar is geen wenners in die situasie nie.

Minstens honderd werknemers van die Watson-skoenfabriek in Groot-Brakrivier neem die afgelope paar weke aan 'n landswye staking van skoenfabrieke deel, waarin 'n 8% verhoging geëis is.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'