MOSSELBAAI NUUS - 'n Groot skilpad het sy of haar lewe te danke aan opmerksaamheid van 'n lid van die Danabaai-buurtwag en die Danabaai-bewarea.
Vrydagmiddag, 14 Desember omstreeks 14:00 het 'n buurtwaglid die buurtwag ingelig van 'n verdagte persoon wat in Floraweg met 'n groot skilpad in die hand stap. Daar is ook vermoed dat daar dalk kleiner skilpaaie in 'n sak mag wees wat die man by hom gehad het.
Die voorsitter van die Danabaai-buurtwag, Otto Ploog en 'n bestuurslid van die Danabaai-Bewarea, Dean Espach het met die hulp van die gemeenskap onmiddellik ondersoek ingestel en die verdagte sowat 300 meter voor die verkeerskruising met Louis Fourieweg opgemerk.
Toe die verdagte gewaar dat daar na hom gesoek word, het hy die groot skilpad en sak wat hy by hom gehad het, neergegooi en weggehardloop in die rigting van Aslapark. Daar was gelukkig nie ander skilpaaie in die plastieksak nie.
Om 'n skilpad in Suid-Afrika wettig aan te hou, word 'n permit van natuurbewaring benodig. Dit is onwettig om skilpaaie uit hul natuurlike omgewing te verwyder, meer nog in die somer wanneer die wyfies tot soveel as ses stelle eiers kan lê. Die bergskilpad het nie tande nie en, as herbivore eet hulle plantaardige materiaal, waarvan hul klein happies heel insluk. Tog sal hulle ook knibbel ook aan genoeg kalsium in te kry sodat hul doppe kan groei. In die natuur kan die skilpaaie tot 100-jaar oud word.
Volgens sanbi.org is die mens die grootste bedreiging vir die oorlewing van die bergskilpad.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'