Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Dis amper moeilik om te dink dat 'n skilpad 'n waaghalsige tog op een van Mosselbaai se besigste roetes ongedeerd kan oorleef, terwyl daar ander skilpaaie in hulle natuurlike habitat vrek as gevolg van onder andere veldbrande.
'n Gewone padloper (Homopus areolatus), een van Suid-Afrika se kleinste skilpaaie het Dinsdagoggend wonderbaarlik aan die dood ontkom, toe 'n plaaslike natuurliefhebber dit vanuit die verpletterende pad van motorwiele gered het by die kruising van Louis Fourieweg met Mosselstraat.
Toe nog in sy voertuig terwyl hy vir die verkeerslig gewag het, het die man wat onderweg was vanaf Heiderand na Mosselbaai, die skilpadjie oorkant die pad bespeur waar 'n minibus-taxi dit net-net gemis het.
Hy kon dit egter nie oor sy hart kry om die te sien hoe die diertjie vertrap word nie en het van koers verander om eers sy reddingspoging uit te voer.
Teen hierdie tyd was die skilpadjie sterk op pad oor Mosselstraat in die rigting van die parkeerarea voor Mikeva.
Met 'n bietjie waagmoed, ontmoet deur geduld van sy mede-padgebruikers, het die man die oggendverkeer suksesvol gestop om die skilpadjie na veiligheid te bring.
Nadat hy dit oornag tuis gehou het, is die diertjie Woensdagoggend in die natuur vrygelaat.
Die gewone padloper is een van Suid-Afrika se kleinste skilpaaie.
Met die skilpadjie se vrylating, het die man op die skelet van 'n skilpad afgekom wat minder gelukkig was en doodgebrand het tydens 'n veldbrand vroeër vanjaar in die Heiderand-omgewing.
Kyk 'n video:
Volgens 'n woordvoerder van CapeNature in George, het die man heeltemal aanvaarbaar opgetree.
"Ons beveel egter aan dat, sou motoriste onderweg na die kusstreke vanaf die Karoo 'n skilpad op die pad teëkom, dat hulle dit nie sal oplaai en kus toe bring nie.
"Die skilpad moet in sy natuurlike habitat bly. Die maklikste is om, sou die dier die pad wou kruis, dit op te tel en na veiligheid te neem in die rigting waarheen dit op pad was," meen Carlo van Tonder, 'n bewaringsdienstebeampte.
Van die wêreld se 43 skilpadspesies, kom 13 in Suid-Afrika en agt hiervan in die Wes-Kaap voor.
Om hierdie rede word na die Wes-Kaap as 'n skilpad-mekka verwys.
Vir interessante inligting aangaande die Wes-Kaap se skilpaaie, besoek www.capenature.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'