TUINROETE-NUUS - As jy spesiale simpatie vir mense met Alzheimer se siekte het, is hier 'n kompetisie waarin jy mag belangstel.
Die Association for Dementia and Alzheimer's of South Africa (ADASA) is die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger van Alzheimer’s Disease International en is daartoe verbind om die lewenskwaliteit van persone met demensie en diegene wat daardeur geraak word, te verbeter.
Verantwoordelikhede
ADASA se verantwoordelikhede:
• Hulle doen individuele- en gesinskonsultasies.
• Skakel met die multi-dissiplinêre span wat betrokke is by die persoon met demensie.
• Doen ondersteuningsgroepe (vier in die Suid-Kaap).
• Rus versorgers en gesinne toe met inligting wat van toepassing is op hul omstandighede, aangesien almal van mekaar verskil.
• Bewusmaking.
ADASA streef daarna om in belang van persone met demensie op te tree en hulle, asook hul versorgers, te ondersteun.
Daar is ADASA-kantore in al die provinsies van ons land, wat ondersteuningsdienste (ook -groepe), bewusmaking en opleiding van versorgers doen.
Alzheimer’s Disease International het in 2019 statistiek bekend gemaak dat daar wêreldwyd 55 miljoen mense met demensie is. Die vooruitskatting is dat daar teen 2030,78 miljoen mense met demensie sal saamleef. Elke drie sekondes word iemand met demensie gediagnoseer.
Veilige versorging
Die behoefte aan veilige en toepaslike versorging is geweldig groot, want persone met demensie het gespesialiseerde sorg nodig.
As deel van ‘n internasionale veldtog om bewustheid vir Alzheimer se siekte en demensie te bevorder, word ‘n spesiale dag jaarliks hieraan gewy op 21 September.
Besoek aan Nederland
Tuinroete-inwoner Sonja Smith is nou 25 jaar in die begrafnisbedryf.
Sy het ná ‘n besoek aan Nederland, by die dorpie De Hogeweyk, wat spesiaal ingerig is vir mense wat met Alzheimer’s en Demensie saamleef, besluit om ‘n verskil te maak en meegewerk om die Hollandse konsep van ‘n Snoezelen kamer by verskeie aftreeoorde in Pretoria in te rig.
Met ‘n holistiese benadering en ‘n arbeidsterapeut, maatskaplike werker en verpleegpersoneel aan boord, was dié multi-sensoriese kamers ‘n groot sukses.
Sonja is sedertdien aktief betrokke by bewusmaking van Alzheimer’s en demensie.
Die vroetelvoorskoot-idee het eintlik ontstaan by ‘n behoefte om outistiese kinders se fyn motoriese vaardighede te help ontwikkel of te behou.
Vroetelvoorskote, -kussings of -moue is terapeutiese hulpmiddels met verskeie items daarop vasgewerk om rustelose hande besig te hou, en ook troos en stresverligting te verskaf.
Sensoriese hulpmiddels
Die bekende voorwerpe op sensoriese hulpmiddels soos hierdie, help die persone om self te kalmeer en dien as 'n bron van visuele, tasbare en sensoriese stimulasie.
Items wat op die voorskote vasgewerk word, sluit in: knope, krale, velcro, ritssluiters, skoenveters en sagte speelgoed. Hulle kom dikwels in strelende pastelkleure of vrolike helder kleure en patrone.
Die publiek word uitgenooi om deel te neem aan die maak van die items. Die voorskote, kussings en moue wat ingesamel is, gaan deur ADASA geskenk word aan die plaaslike tehuise en versorgingsoorde wat werk met Alzheimer’s en demensie.
Daar gaan ‘n prys wees vir die beste drie items in elke kategorie, waaronder ‘n naweek vir twee persone op Witsand en ander lekker pryse.
Die sluitingsdatum is 30 April en die prysuitdeling middel Mei.
Afsetpunte
Sonja Smith Begrafnisgroep se kantore in die Suid-Kaap kan gebruik word is die afsetpunte en ontvangs van die items:
- CJ Langenhovenstraat 23, Dormehlsdrift, George (044 110 0020 of 064 750 6125).
- Soetdoringstraat 32, Heiderand, Mosselbaai (044 110 0021 of 064 750 6127).
Sien ook www.sonjasmith-funerals.co.za.
Vir meer inligting, inskrywingsvorms, asook die reëls van die kompetisie, kontak Christelle (christelle@ssfg.co.za) by Sonja Smith Funeral Group.
Die ADASA besonderhede is 082 699 7600 of hettie.theron@adasa.org.za.
'n Voorbeeld van 'n vroetelvoorskoot.
'n Vroetelmou.
Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus.