Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die gebrul van 'n vragmotor van Gift of the Givers was die klank van groot verligting in Mosselbaai, so ook in ander dele van die Tuinroete toe die organisasie vandeesweek meer as 250 suurstofmasjiene in die stryd teen Covid-19 versprei het.
Dié organisasie het Maandag, 11 Januarie ook ander hulpmiddels, onder meer beskermende kleredrag, gesigmaskers en handreiniger by onder meer hospitale, ouetehuise en polisiestasies in Mosselbaai afgelewer.
Onder die plaaslike begunstigdes was die Mosselbaai provinsiale hospitaal, wat 60 CPAP-masjiene ontvang het.
CPAP (Continuous Airway Pressure)-masjiene word veral in die behandeling van obstruktiewe slaapapnee gebruik. Die masjien forseer suurstof deur die lugweë om obstruksies teen te werk. CPAP-masjiene word reeds 'n geruime tyd met sukses in die Tygerberg-hospitaal gebruik om pasiënte wat vanweë Covid-19 gehospitaliseer word, te behandel.
Fotogalery: Gift of the Givers skenk aan Mosselbaai
Die masjiene is trots Suid-Afrikaans en deur die Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing (WNNR) vervaardig. Die plaaslik vervaardigde masjiene is meganies en lewer suurstof teen 10 tot 30 liter per minuut en kan 99% saturasie dus vinniger bereik, teen 'n lae tot medium suurstofvloei.
Gift of the Givers het in totaal 1 800 masjiene gedurende die afgelope week in ses provinsies geskenk.
Kyk 'n video hieronder:
Die skenking het groot verligting onder veral gesondheidsorgwerkers in Covid-19-brandpuntareas, soos Mosselbaai gebring.
Benevolent Park, ook een van die begunstiges, se bestuurder Kitty Thiele het die skenking van veral beskermende drag aan die tehuis verwelkom.
In 2020, het die Mossel Bay Advertiser berig oor 'n vlaag Covid-19-sterftes by die tehuis, waartydens Thiele genoem het dat daar groot nood aan die geskikte beskermende kleredrag vir personeel was.
"Met hierdie skenking, voel ons gereed vir wat ookal verder kan gebeur," het Thiele by navraag gesê.
Volgens munisipale bestuurder adv Thys Gilliomee, wat vandeesweek gedetailleerde grafika van die Covid-19-statistiek by navraag aan die Advertiser gewys het, begin die tweede plaag tans in die groter Mosselbaai stabiliseer.
Gilliomee het veral melding van gesondheidsorgwerkers se uitstekende werk om lewens te red, gemaak. "Ons hospitale het nog kapasiteit. Ons is hulle baie dank verskuldig."
Hy het opnuut gemaan dat Mosselbaaiers by die Covid-19-protokol moet hou in 'n toegewyde kollektiewe poging om die virus hok te slaan.
Vorige artikel: Gift of the Givers reach out in Covid-19 hotspot
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'