MOSSELBAAI NUUS - Die Eden Beskermingseenheid is pas tot stand gebring en 'n interimbestuur, met Pieter Goussard as voorsitter, Adwin Saayman as koördineerder en William Sam as sekretaris is verkies.
Hierdie inisiatief volg op die bekendmaking van die jongste misdaadstatistiek en die toenemende aantal plaasaanvalle, en die Swart Maandag-optogte wat wyd ondersteun is deur die algemene publiek.
Die optogte het die publiek weer meer bewus gemaak van die toenemende gevaar waaraan alle Suid-Afrikaners blootgestel is. maar het ongelukkig nie 'n duik gemaak in misaadvoorkoming nie.
Baie navrae is aan munisipaliteite gerig om te verneem of munisipaliteite nie 'n groter rol in die proses kan speel nie?
Die meeste munisipaliteite beskik oor Wetstoepassers en Verkeersdienste, wat saam met die Suid-Afrikaanse Polisie misdaad probeer bekamp.
Private sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte speel ook 'n belangrike rol.
Dit is egter die taak van elke inwoner om ook betrokke te raak. Mense wil graag betrokke raak, maar weet nie op watter manier nie. Inwoners kan as reserviste by die Suid-Afrikaanse Polisie aansluit, maar dit blyk nie 'n gewilde keuse te wees nie.
Hessequa Munispaliteit het leiding in hierdie verband geneem en rolspelers in verskillende dorpe in die Eden Distriksmunisipaliteit (EDM) het by 'n vergadering verskillende opsies oorweeg om die algemene publiek te betrek.
Daar is besluit om die Eden Beskermingseenheid te stig.
Alle inwoners in die EDM kan by die eenheid aansluit.
Dit gee ook die geleentheid aan lede van die Militêre Veterane en oud-Kommandolede om ook weer betrokke te raak.
Ook jongmense ouer as 18-jaar kan aansluit.
Daar sal wel 'n keuringsproses wees en persone met 'n misdaadrekord se aansoeke sal nie oorweeg word nie. Aansluiting is gratis.
Die Eden Beskermingseenheid is 'n nie-politiese vereniging, sonder winsbejag en maak voorsiening vir alle bevolkingsgroepe en geslagte.
Die enigste verdere vereiste is dat aansoekers Afrikaans magtig moet wees, aangesien opleiding in Afrikaans aangebied sal word. Let Wel; die Eenheid sal as 'n deeltydse- en vrywillige mag sal optree en daar is op hierdie stadium geen vergoeding ter sprake nie. Dit mag wel later verander.
Doel
Die doel van hierdie Eenheid is nie om die rol van die SAPD of Wetstoepassers oor te neem nie, maar om aan hulle ondersteuning te bied en pro-aktief op te tree.
Die Eenheid behoort ook die vermoë te hê om as reaksiemag op te tree.
Die Eenheid sal onder die onderskeie mandate van die SAPD en munisipale wetstoepassers optree. Daar word beoog om in elke dorp 'n korps van die Eenheid te vestig.
Opleiding, of verfrissingsopleiding, sal verskaf word en die Eenheid sal die SAPD bystaan met padblokkades en plaasbesoeke en ander versoeke, soos deur die SAPD of Wetstoepassers gerig mag word.
Daar word beoog om ook opleiding in Noodhulp en Brandbestryding te bied en dit verder uit te brei, soos wat meer behoeftes ontstaan.
Plaasbesoeke sal nie net aan grondeienaars gebring word nie, maar ook aan plaaswerkers.
Alle inligting wat tydens operasies ingewin word, sal aandie SAPD deurgegee word.
Die Eenheid beskik op hierdie stadium oor geen fondse nie. Versoeke sal gerig word aan die Wes-Kaap Provinsiale regering, die Departement van Gemeenskapsveiligheid, besighede, grondeienaars en die onderskeie munisipaliteite vir finansiële bystand en ondersteuning.
Daarsonder sal die Eenheid nie sy beoogde take kan verrig nie.
Dit word in die vooruitsig gestel dat lede 'n uniform sal dra om hulle van die algemene publiek te onderskei.
Hou gerus die plaaslike pers dop vir verdere kennisgewings of skakel Mnr. Saayman by 071 780 8346. William Sam 082 387 6340 of Pieter Goussard 084 556 2135.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'