MOSSELBAAI NUUS - Besorgde ouers in landelike gemeen-skappe buite Mosselbaai, beywer hulle sedert April vanjaar om 'n skolevervoer-stelsel vir hulle kinders in plek te kry.
Dit volg onder meer nadat ouers van Sonskynvallei na sowat vyf jaar suksesvol was in hulle volgehoue poging om die Wes-Kaapse onderwysdepartement te oorreed om gesubsidieerde busvervoer na Laerskool Hartenbos te bewillig.
Die Groter Brandwacht Omgee-gemeenskapsforum bestaan uit die ouers van hoërskoolleerders in Sonskynvallei, Brandwag en Ruiterbos. Die groep het gedurende die afgelope maande gereelde vergaderings gehou waarna die beheerliggaam en bestuur van onder meer Hoërskool Sao Bras genooi is om die herinstelling van 'n leerdervervoerskema te versoek.
Die ouers maak kapsie teen die afdwinging van koshuisinwoning sonder die alternatief van 'n gesubsidieerde vervoerskema.
Tans, volgens inligting benodig minstens 114 leerders vervoer uit die genoemde gebiede. Hulle ouers verwerp koshuisinwoning vanweë die negatiewe invloede en groepsdruk binne die koshuisopset.
Ouers dring daarop aan dat dit deel van beide ouer en kind se basiese regte is om binne die bestaande gesinstruktuur te kan funksioneer en dat dit nie voordelig vir hulle kinders is om "kunsmatig vanuit 'n landelike omgewing verskuif te word nie".
Bo en behalwe die hoë koste van vervoer binne swak ekonomiese toestande, kla ouers wat aangewese is op privaat vervoer, dat hulle kinders veral in die wintermaande voor ligdag reeds wag vir taxis wat dikwels oorlaai word.
Kommer heers oor leerders wat saam met volwassenes vervoer word en by ongekontroleerde, informele aflaaipunte gelaat word. Ander klagtes oor die bestaande vervoerstelsel asook koshuisinwoning het betrekking op Covid-19-regulasies wat nie toegepas word nie.
Privaat vervoer kan ouers wat R5 000 per maand as plaaswerkers verdien, minstens R1 600 uit die sak jaag. Daar word beweer dat leerders vanweë hierdie faktore nie in staat is om skool by te woon nie en ook dat dit hulle verhinder om eksamens af te lê.
Die aantyging is gemaak dat Hoërskool Sao Bras onregmatig voordeel trek uit die departement se subsidies vir leerders se koshuisinwoning en daarom nie moeite doen om die vervoerstelsel in plek te kry nie.
WKOD reageer
Bronagh Hammond het by navraag gesê dat die distrikskantoor nie kennis dra van leerders wat pertinent vanweë vervoerprobleme nie meer skool bywoon nie.
"Volgens die WKOD se beleid oor vervoer en akkommodasie, word vervoer waar prakties moontlik aan geregistreerde leerders gebied, mits hulle nie 'n vervoer- of koshuisbeurs ontvang nie. Dus, as 'n leerder buite die 5km radius vanaf 'n skool woon en geakkommodeer kan word in die skoolkoshuis, word vervoer nie beskikbaar gestel nie."
Hammond sê dat die konsep agter die verskaffing van koshuisinwoning, asook die subsidie, daarop gerig is om leerders wat ver van die skool af woon 'n "holistiese skoolervaring" te bied.
"Dit sluit in die skep van 'n veilige omgewing waar huiswerk gedoen en aan buitemuurse aktiwiteite deelgeneem kan word. Leerders ontvang etes, wat verdere lewenskoste vir die ouers tuis verlaag."
Hammond sê ook dat die WKOD se begroting tans nie toelaat om aan sommige leerders kosinwoning en aan ander vervoer te bied nie.
"Die departement kan egter bevestig dat 'n aansoek om 'n nuwe vervoerroete in die spesifieke gebiede deur die distrikskantoor ontvang is. Dit is ook by hoofkantoor ontvang en sal vandeesweek deur die buskomitee oorweeg word. Ons wag dus op hulle aanbeveling."
Sy het voorts gesê dat daar nog nooit voorheen aantygings gemaak is oor wanbestuur van inwoningsubsidies nie.
"Die keuse om inwoning te subsidieer in plaas van vervoer, is nie die skool se besluit nie, maar deel van die WKOD se beleid."
Sy het ook genoem dat koshuise landwyd reeds 'n geruime tyd suksesvol voldoen aan Covid-19-regulasies, wat ouers se vrese in die verband behoort te besweer. Wat voorbereiding vir eksamens betref, meen Hammond dat koshuisinwoning tog sy voordele het waarby sommige leerders baat omdat hulle saam met klasmaats kan studeer in 'n geskikte omgewing, terwyl pendeltyd bespaar word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'