MOSSELBAAI NUUS - Anton Siebert, ‘n opvoeder van Diaz Primêre Skool en top 10-finalis in die Mnr Suid-Afrika 2021-kompetisie, sal vandeesweek in Johannesburg aan die laaste been van die beoordeling deelneem.
Siebert is Vrydag, 29 Oktober tydens ‘n kort seremonie by die skool verras, toe kollegas op ‘n tasbare manier hulle steun aan hom toegesê het.
Die personeel het aan Siebert ‘n skenking oorhandig ten bate van kaartjieverkope vir die kompetisie, wat deel van die beoordelingskriteria maak. Kaartjies kos R650 per kop.
‘n Merkbaar emosionele Siebert het die personeel en veral die hoof, Genevieve Muller bedank vir haar ondersteuning tydens sy deelname.
Tydens die byeenkoms is ‘n video-opname, waaraan die hele skool deelgeneem het om Siebert sterkte toe te wens, gespeel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'