MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers kan vanjaar uitsien om die NSRI Stasie 15 se 50ste bestaansjaar op 'n luisterryke manier saam met hierdie toegewyde span vrywilligers te vier wanneer 'n besonderse boek ter herdenking van hul onbaatsugtige diens aan die gemeenskap, beskikbaar sal wees.
Om hierdie storie van Stasie 15 te lees, is soos "om die enorme golwe in 'n stormagtige see te trotseer".
Die leser kry voorkeursitplek om te sien wat gebeur tydens ’n redding: ín die stasie, in die hart van ’n bemanningslid en gedurende die beslissende oomblikke wanneer ’n lewe gered word. Hy kry ook insae in die onuitgesproke eensame nabetragting na afloop van ’n redding.
Hierdie stories is waar en eg, soos vertel deur bemanningslede in hulle eie woorde.
Die vertellings word verdeel in vyf dele: die geskiedenis van Stasie 15, die bou en ingebruikneming van die eerste boothuis, die aaneenlopende ontwikkeling van Stasie 15, stories van reddings en wonderwerke en ’n ererol met ’n lys van name wat huidige sowel as oudbemanningslede insluit, maar wat ook hulle harte ontbloot deur hulle uitsprake, gebede, gedigte en getuienisse.
Mosselbaai se gemeenskap was nou betrokke by die ontwikkeling van hierdie goue jubileumboek met befondsing, navorsingsmateriaal, vrywillige professionele en artistieke dienste, deel van herinneringe; soos byvoorbeeld dié van die onbekende weduwee wat myle geloop het om R2 te skenk vir die bou van die boothuis in 1970.
Die boek, wat die jare vanaf 1970 tot 2021 dek, word opgedra aan die hoogsopgeleide vrywilligers wat die see trotseer en die stasie bestuur met passie en toewyding. In Engels en Afrikaans, is die 180 bladsye gevul met 265 foto's, 40 koerantberigte, asook verhale van seereddings.
Nie minder nie as 350 vrywilligers pronk op Stasie 15 se ererol.
Sewe redaksielede, bestaande uit Stasie 15 se André Fraser (bevelvoerder), Glenda Maritz en Keith Caery, het skouer aan die wiel gesit saam met lede van die Mosselbaai Skryfklub, Anneldi Morkel, Erna Maritz, Luzette Jacobs en dr Jopie Coetzee, om hierdie skryfprojek te laat materialiseer. Hulle liefdestaak het sewe jaar geneem om te voltooi.
Verkope van hierdie besonderse boek is ten bate van die NSRI. Drie opsies is beskikbaar, teen verskillende pryse.
Bestellings kan geplaas word by www.printmatters.co.za of stuur 'n e-pos aan die NSRI se uitgewer, Robin Stuart-Cark by robin@printmatters.co.za
Die boek word op 1 Mei vanjaar tydens 'n feesviering by die Dais Maritieme Museum bekendgestel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'