MOSSELBAAI NUUS - Tydens die Lentefees wat verlede naweek by die Fairview Farmyard plaasgevind het, het 'n hartroerende toneel hom afgespeel.
Die vyfjarige Rechardt Duvenage se haartjies is nog nooit gesny nie en hy het besluit om sy hare eendag vir iemand te skenk wat siek is. Sy ouers het hom grootgemaak met 'n bewustheid van kanker en hy het 'n rukkie gelede aan Pa Renier genoem dat hy dink die tyd nou reg is om sy goue lokke af te sny.
Die geleentheid het hom Saterdag voorgedoen en hoewel hy eers in trane was (omdat al die mense vir hom gekyk het!) het hy sy nuwe maatjie, Meehika, laat roep om sy handjie te kom vashou. Ten aanskoue van ouma Anne-Marie en oupa Attie, pappa Renier en 'n hele paar ondersteuners, het Daniel Prins met sy haarknipper die pragtige lang poniestert afgesny en aan Kansa oorhandig om dit aan 'n siek dogtertjie te skenk.
"Ek is baie trots op al drie my seuns maar Saterdag was vir my die trotste dag nog. Ek weet nou dat my oudste seun baie meer guts het as ek," was Renier se woorde na die tyd.
Renier is ook 'n trotse vrywilliger van S.M.A.R.T. en sy drie seuns Rechardt, Robbie en Rohandré het alreeds saam met Renier gegaan om 'n gestrande rob te gaan help.
Voorwaar 'n gesin wat omgee vir mens en dier in nood.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'