MOSSELBAAI NUUS - Die strewe om soveel moontlik te vermag met die beskikbare befondsing vir behuising en infrastruktuurdienste het uiteindelik Mosselbaai-munisipaliteit 'n sewende skoon oudit gekos.
Die ouditeur-generaal oorweeg drie aspekte wanneer munisipalteite se oudits gedoen word, naamlik of voorafbepaalde doelstellings nagekom is; of die finansiële state akkurate weergawe van gebeure is; en of daar aan wetgewing voldoen is.
Die enigste aspek wat Mosselbaai van 'n skoon oudit weerhou het, was nie-voldoening aan wetgewing - hier het die ouditeur-generaal bevind dat Mosselbaai-munisipaliteit op twee behuisingsprojekte in Sonskynvallei en Azazani Siyoka nie skriftelike bewys kon lewer van die bekostigbaarheidstudie wat gedoen was om nie te subkontrakteer nie al is die tenders meer as R30 miljoen.
Daar is egter 'n meningsverskil oor die interpretasie van die voorskrif wat dit stel dat bekostigbaarheid oorweeg moet word om 'n subkontrakteur vir tot 30% van die waarde van die kontrak te gebruik.
Bodspesifikasiekomitee
Mosselbaai-munisipaliteit se bodspesifikasiekomitee het, ná deeglike oorweging, besluit om nie 'n subkontrakteur vir die drie projekte van meer as R30 miljoen te gebruik nie omdat die nodige werk beswaarlik binne die raamwerk van die subsidiebedrag voltooi kon word. Die oogmerk was juis om méér huise te kan lewer met die beskikbare befondsing.
Die ander projek wat uitgewys is handel oor die grootmaatwaterverskaffing tussen Klein Brak-suiweringswerke en die Langebergreservoir, waar die ouditeure wel bevind dat die munisipaliteit korrek opgetree het.
Ondanks beëdigde verklarings deur lede van die bodspesifikasiekomitee dat daar wél deeglik oorweging gegee is vir die gebruik van 'n kontrakteur maar, na baie deeglike besinning, daarteen besluit is, het die ouditeur-generaal se kantoor weens 'n streng semantiese verskil in interpretasie van die Mosselbaai-munisipaliteit se standpunt verskil en is die munisipaliteit 'n skoon oudit kwyt.
Die bekostigbaarheid en lewensvatbaarheid van die spesifieke projekte moet wel deeglik oorweeg word voordat subkontraktering gedoen kon word. Wanneer dit nie lewensvatbaarheid is nie, hoef munisipaliteite nie te subkontrakteer nie.
Beperkte befondsing vir projekte
Die geskiedenis het die Mosselbaai-munisipaliteit geleer dat tenderaars nie met hul pryse binne die beskikbare fondse kan kom nie gegewe juis die beperkte befondsing vir projekte wat van die provinsiale regering ontvang word. Die gevolg is dat subkontraktering onmoontlik is, hoewel gesorg word dat plaaslike arbeid, soos voorgeskryf, aangewend en gemonitor word.
"Die munisipaliteit het deurgaans in belang van die heemloses opgetree toe die besluit, na deeglike oorweging, geneem is om nie subkontrakteurs te gebruik nie. Ongelukkig kon die ouditeur-generaal se kantoor en die munisipaliteit nie ooreenstemming bereik oor die semantiese verskille in interpretasie van die bepaling van Regulasie 9 van die reguleringswet op voorkeurverkryging nie. Ek wil dit duidelik stel dat die munisipaliteit in die beste belang van die gemeenskap opgetree het ingevolge 'n interpretasie van 'n regulasie wat verskil van dit wat die ouditeur-generaal se kantoor handhaaf. Mosselbaai-munisipaliteit is trots op die kwaliteit van dienslewering en die handhawing van 'n baie streng rekord van skoon administrasie en sal voortgaan om hierdie beginsels na te streef," volgens die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'