MOSSELBAAI NUUS - 'n Elfjarige meisie is Saterdagmiddag in haar ouerhuis in Snoekstraat 47, Uitbreiding 13 gevind nadat sy selfdood gepleeg het.
Jenique Pieterse was 'n leerder aan Erika Primêre Skool.
Haar liggaam is om 15:40 op 19 Augustus deur 'n familielid ontdek.
Volgens haar ma, Marie Rhode, was Jenique Saterdagoggend ure voor haar dood, nog besig om met maats in die erf te speel. "Daar was so 'n lekker atmosfeer onder hulle. Hulle het op blikkies gekap en koortjies gesing. Ek wou sommer daar saam met hulle inval," het Marie Woensdag aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Marie vertel dat sy Jenique van voor sy twee maande oud was, grootgemaak het. "Sy was baie verwaarloos. Haar ma het haar net vir my kom gee en ek het haar grootgemaak. Sy was my babatjie. Wat ek vir haar gedoen het, het ek uit my hart gedoen. Ek sou nooit kon dink dat haar lewe so sou eindig nie."
Marie sê dat daar niks te bemerk was aan Jenique wat daarop gedui het dat sy depressief was nie. Sy het ook gesê dat onderwysers van Erika Primêre Skool wat haar oor die naweek, na Jenique se dood besoek het, ook niks gemeld het dat sy anders by die skool opgetree het nie, behalwe dat sy Vrydag baie drukkies uitgedeel het aan van haar onderwysers.
Jenique het verlede jaar lank behandeling ontvang in die Rooikruis-kinderhospitaal vir 'n mediese kondisie. "Ons het mooi bande met die personeel daar gevorm en hulle was baie geskok om van haar dood te hoor."
"Daar is baie vrae en baie antwoorde, maar nie ek of enigiemand anders sal daardie vrae en antwoorde ken nie. Ek sal dit eendag by God kry. Daar is baie trane, maar ek gaan nie pille en medikasie gebruik nie. Die Here sal my hierdeur dra."
Jerome Kees, Jenique se peetpa het bevestig dat Jenique binnekort weer vir mediese behandeling sou moes gaan.
"Daar is maar baie gepratery onder mense, maar die een ding is seker. In die huis waar sy grootgeword het, het sy beslis die meeste liefde gekry," het hy gesê. "Ek hoop Jenique se dood is 'n wake up call vir die gemeenskap om te let op kinders in die huis, wat hulle sien en hoor en kyk op televisie."
Die personeel en leerders van Erika Primêre Skool is gedurende die week deur die Wes-Kaap onderwysdepartement ondersteun met berading.
'n Roudiens is gister vir Jenique gehou. Die begrafnis word môre, Saterdag 26 Augustus 11:00 by Snoekstraat 47 gehou en dan vanuit die Holy Nativity-kerk, Marlinstraat Uitbreiding 13 om 12:00.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'