MOSSELBAAI NUUS - Die lede van VLV Voëlvlei was bevoorreg om deur Carol Walton, stigter van die Seevoël- en Pikkewyn Rehabilitasiesentrum (SAPREC), Simoné Kleinhans en René Hodges ingelig te word oor hulle werk.
In die streek wat strek van Stilbaai tot Wildernis is hulle verantwoordelik vir die rehabilitasie van siek, oliebesmette en beseerde seevoëls.
Verskillende spesies, en veral ook bedreigde spesies soos die malgas en pikkewyn word deur SAPREC behandel op hulle terrein by Mossdustria. Met die hulp van ‘n veearts en vrywillige helpers, word voëls gevoed, medikasie toegedien, skoongemaak, geopereer, van mikroskyfies voorsien en weer in hulle natuurlike habitat vrygelaat.
Die baie interessante praatjie en aanbieding het die lede opnuut bewus gemaak van die algemene publiek se verantwoordelikheid ten opsigte van besoedeling. Plastiek, vishoeke, vislyn, die gevaar van die uitroeiing van vis, en weggooikos wat deur meeue opgetel word, is opnuut onder die aandag gebring. Mense behoort bedag daarop te wees, en moet veral ook seker maak dat vis in restaurante wel op die groen lys is voordat hulle dit bestel.
Seevoëls, soos mense, kry ook siektes soos malaria, oorgedra deur muskiete, bosluiskoors en voedselvergiftiging. Bloedtoetse word gedoen om oorsake vas te stel. Hulle is ook dikwels blootgestel aan robbyte en benodig soms operasies.
Die vrylating van die voëls word ook op 'n baie spesifieke manier gedoen. Pikkewyne word by Fransmanshoek, meeue by Nautilus en malgasse by Danabaai vrygelaat. Vir die pikkewyne moet daar altyd ‘n volwasse voël saam met die jonges wees. Hulle word ook nooit individueel vrygelaat nie, maar altyd in ‘n groep.
Omdat die organisasie van donasies afhanklik is, is die VLV-vroue ingelig dat dinge soos finansiële bydraes, veral vir die aankoop van sardyne vir voedsel, sowel as ou handdoeke, skottelgoedseep en kabelbinders (cable ties) altyd welkom is. Die opbrengs van die marktafel is aan SAPREC geskenk. VLV-vroue is ook uitgenooi om die terrein te besoek waar hulle hartlik verwelkom sal word deur een van die permanente pikkewyn-inwoners in hulle ‘n pragtige swart en wit verepakkies.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'