MOSSELBAAI NUUS - Vir 43 jaar het sy haar bekommer oor hom, sê Lizette Crause, maar nou is haar geliefde Ewald (74) of Seevader soos hy alombekend was, vir ewig veilig.
Crause, veral bekend vir die oorlewingskursusse wat hy aangebied het, is op Saterdag, 23 Mei oorlede.
Sy grootste nalatenskap is seker die Grosvenor-oorlewingskursus wat hy vir 40 jaar lank aangebied het. Tydens dié kursus, moet ‘n groep seuns sewe dae lank sonder kos of skuiling in die opgerepte natuur oorleef. By tye, volgens Lizette, was daar tot groepe van 60 betrokke.
Die egpaar het 20 jaar op Hartenbos gebly. Ewald het sy lewe lank ‘n passie vir jongmense en veral leierskapsontwikkeling gehad. In der waarheid, was dit aldus Lizette, sy grootste dryfveer in die lewe. In 1972 reeds, het hy met 26 seuns vanaf Port Elizabeth tot in Kaapstad gestap ten bate van Kreupelsorg. Hy het in vier dorpe Voortrekkerterreine gevestig, omdat dit vir hom ‘n effektiewe manier was om jongmense te bereik. Hy het ook in Transkei oorlewingskursusse aangebied en hy het verskeie marathons op sy kerfstok.
Verwondering
“Vroeër dae voor daar selfone was, het ek hom gegroet en eers weer gesien as die groep veilig terugkom van die oorlewingskursus. Was daar ‘n krisis, het hy my van ‘n plaas af êrens gebel, dan maak ek ‘n plan. Ek was sy lewe lank sy back up crew.”
In al die jare, onthou sy, was sy het eenkeer kwaad vir Ewald. Tydens een van die Grosvenor-kursusse het dit erg gereën. “Ek het die seuns so jammer gekry dat ek vir hulle warm koffie en brood geneem het. Ewald het gesê dat die seuns nog nie ‘n Grosvenor-ervaring gehad het nie en het my weggestuur.”
Sy vertel van al sy wilde avonture, maar haar lewenstaak meen Lizette was om Ewald 100% te ondersteun. “’n Grot het hy nie uitgelos nie. Hy was op elke bergtop in die Oos- en die Wes-Kaap. Soms het ons agt ure van Port Elizabeth tot in Mosselbaai gery, want dan sien hy iets langs die pad wat hom interesseer. As jy weer sien lê hy op sy maag om ‘n blommetjie af te neem.”
Lizette sê dat Ewald hom aan die natuur verwonder het. “Ek dink dit is omdat hy dieper as die mooi gekyk het. Vir hom was die ‘n vorm van aanbidding. Hy kon sien presies hoe groot God is, in die kleinste tot die grootste dinge.” Die naam Seevader het hy gekry toe hy gedurende vakansietye op Hartenbos, staptogte op die strand vir vakansiegangers aangebied en sy breë kennis van die see en natuur gedeel het.
“Die vraag wat hy altyd gevra het was, Am I the man God intended me to be. As ek moet antwoord, kan ek net ja sê.”
Sy meen Ewald het drie leeftye en dalk selfs die helfte van hare in syne geleef het. Hy laat sy vrou, drie kinders, drie skoonkinders en vyf kleinkinders agter.
Instrukteur onthou
Kosie Gericke, een van Ewald se protégés, se hy het te veel herinneringe om te vertel. "Ek het in 2000 oom Ewald ontmoet met my eerste Grosvenor, daarna het ek hom gehelp met die seeskool op Hartenbos." Op hierdie manier het hy betrokke geraak by die Grosvenor as een van 'n aantal ander instrukteurs.
"Oom Ewald het my baie leiding gegee. Sy sêgoedjies is onvergeetlik. Soos 'goeiste manne'. Sy liefde vir sing was besonders. Dat hy 'n faktor in my lewe was, is 'n feit.
"Hy het altyd gesê, betref die Grosvenor betref, die skip het gesink, maar die legende leef voort. Dat sy Grosvenor-legende gaan voortleef, sal ook so wees."
Ware woorde
Johan Potgieter skryf dat 'n 1000 jong manne oor 'n tydperk van 40 jaar onder Seevader se hande deur is. "Hoe skryf mens ‘n huldeblyk oor ‘n man wat geen eer van mense nagestreef het nie?"
"Na my eerste Grosvenor as 16-jarige, het ek en ‘n paar vriende besluit om na matriek saam vir oulaas weer ‘n Grosvenor te doen. Ek weet nie of ons die eerste groep was wat teruggekom het vir ‘n tweede een nie, maar dit was asof daar altyd vanself ‘n paar mal seuns besluit het om terug te kom om vir sewe dae uit die veld te leef en buite te slaap."
Na matriek het Johan aangegaan met sy lewe en gaan studeer. "Ek het eintlik heeltemal vergeet van meneer Ewald. Tydens ‘n gesprek met een van ons ’95 Grosvenor-stappers en skoolvriende, verneem ek mnr Crause bly in Hartenbos en ek het hom gaan groet."
‘n Hele paar seisoene later tref die gedagte Johan, dat as daar een man is wat ‘n positiewe impak het op mense en daarvoor geen eer of erkenning ontvang van die buitewêreld af nie, maar wat sy liefdeswerk steeds voortsit, dan is die Ewald Crause. "Hy het vir 40 jaar opeenvolgend Desember ‘n groep van 40 jong manne (16 tot 18 jaar oud) die bos in geneem. En ek weet hy het dit verseker nie gedoen vir mense se eer nie. "
Eer aan sy Skepper
Johan beskryf Ewald se verhouding met sy Skepper as opregte, stil en diep. "So hoe gee ons erkenning aan die lewe van Ewald Crause? Miskien help dit om ‘n paar van sy sêgoed neer te pen. "Agter teen die muur van sy biologieklas was die woorde - leef jy of bestaan jy? asook ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde verstand.
Met die wegtrek van die Grosvenor uit Wildernis het hy altyd gesê: “Julle kon gekies het om vir ‘n matrieknaweek dwelms te gebruik, maar julle is hier vir ‘n ander avontuur. Die week gaan jy op ‘n trip gaan sonder dwelms. Jy gaan honger voel, koud voel, pyn voel. Weet egter dit, as jy iets voel, dan leef jy!"
Johan vertel ook hoe lief Ewald was vir sing. Volgens Johan het hy altyd met die kursus gese: "Ons Afrikanermans sing mos nie eintlik nie. Weet egter dit, ek het slegte nuus vir die wat nie hou van sing nie, want as ons eendag in die hemel is, gaan ons heeltyd sing!”
Volgens Johan het Ewald Jesus Christus voorgehou as die toonbeeld van 'n ware leier. Sy opinie oor verhoudings was dat as jou verhouding met Skepper reg is, al jou menseverhoudings ook in plek sal val.
"Psalm 121 het hy elke jaar voor die wegtrek van Grosvenor gelees. In die hele geskiedenis van Grosvenor het daar nooit iemand gesterf of ernstig seergekry nie, net ‘n paar gebreekte bene, tydelike blindheid weens skerpioensteek, 'n bye-aanval waar van die seuns se ooglede met afgebreekte vuurhoutjie stokkies oopgehou moes word om te kon sien, giftige bessies wat geeët is, en natuurlik die hongerpyne vir groeiende seuns."
• Vanweë die huidige regulasies, word ‘n privaat roudiens vir Seevader gehou. Huldeblyke kan gelaat word op die facebookblaaie Grosvenor Oorlewingskursus of Ewald Crause of by Ewald Crause se gedenkblad op Memories.net
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'