MOSSELBAAI NUUS - 'n Baie bekende in die Mosselbaai omgewing en seeman van formaat is op 1 April op die ouderdom van 78 oorlede.
Gysbert Johannes Loftus Heunis of Loftus soos almal hom geken het, is gebore op 13 September 1943 op Mosselbaai. Hy bring sy eerste skooljare op Laerskool Park deur en matrikuleer aan Hoër Seunskool Oudshoorn.
Hy studeer vir drie jaar onderwys in Wellington. Daarna aanvaar hy 'n musiek onderwyspos by die Skool vir Blindes in Worcester.
Hy behaal sy B Mus-graad by Unisa, en M Mus-graad aan die Universiteit van Port Elizabeth. Sy D Phil-graad behaal hy aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy behaal bogenoemde grade almal cum laude.
Voorts studeer hy vir 'n jaar aan die Mozart Teum in Saltzburg Oostenryk. Daarna tree hy as gasdosent op by die Universiteit van Calgury in Kanada. In 2001 tree hy en sy vrou, Eliese af en vestig hulle in Mosselbaai. Hier raak hy baie betrokke by die destydse seiljag- en bootklub en stig 'n ontwikkelingsprogram vir jong kinders wat met groot geesdrif ontvang word.
Sy liefde vir die see was deurgaans die dryfkrag vir alle aktiwiteite wat gevolg het. Hy bied skipperskursusse aan en was verantwoordelik vir die kontrole en uitreiking van veiligheidsklaringsertifikate van bote.
Loftus en Eliese was 55 jaar getroud en het twee dogters, Liesl en Niki. Eliese was ook 'n musiekonderwyseres vir 30 jaar en het hom bygestaan met die administratiewe afdelings van die bogenoemde kursusse en die veiligheidsklaring van bote.
Sy betrokkenheid by die NSRI het sy liefde vir die see weerspieël.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'