Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Toe Barenda Te Brugge sowat twee jaar gelede haar oorlede man se as op Hartenbos by sy gunsteling hengelplek gaan strooi, het sy kwalik kon dink dat dit die begin van 'n rare en betekenisvolle verhouding sou wees – dít, met 'n seekat.
Barenda, 'n binnenshuis-versierder van Bloemfontein, was 33 jaar getroud toe haar man binne 'n week aan Kongokoors dood is na 'n bosluisbyt.
Sy het twee jaar gelede 'n woonstel op Hartenbos gekoop en vertel van die helder wintersdag toe sy die as gaan strooi het.
"Ken jy die hart van Hartenbos? Daar is 'n rotsbank waar Willem visgevang het. 'n Vlak laer, is 'n rotspoel gevorm soos 'n hart. Dit is slegs sigbaar as die gety baie laag is."
Nadat sy die as gestrooi het, het sy met haar voete in die water van dié rotspoel gaan sit. En dís waar die storie eintlik begin.
Eers was daar 'n tentakel om haar linkerenkel, toe haar linkergewrig. Bangerig begin sy toe maar met die "gedierte" praat terwyl sy die tentakels probeer losknoop.
"En toe loer 'n seekat onder 'n rots uit. Ek het snot en trane begin huil. Hy het sy greep gelos en met my begin speel. Ek het hom Carel gedoop, my man se tweede naam."
Fotogalery: Seekat-liefde in die hart van Hartenbos
Só is dit 'n staande reël. Vir twee jaar, sodra sy op Hartenbos kom, gaan kuier sy vir Carel. En Carel, is altyd daar – by die hart van Hartenbos.
"Ek weet hulle lewensverwagting is so twee jaar, maar ek glo dis Carel want een van sy tentakels is effe korter as die ander."
Kyk 'n video hieronder:
In Desember 2020, het Barenda Carel van die pot gered. Toe sy by die rotspoel kom, het 'n man Carel gevang.
"Die man se seuntjie het opgewonde vir my gesê 'tannie vanaand eet ons calamari'. Ek het geantwoord 'ek koop vir jou al die calamari op Mosselbaai, maar julle kan nie vir Carel eet nie, dis mý seekat'. Die man het my aangekyk of ek mal is. Carel was angstig en het ink gespuit. Toe ek nader kom en met hom praat, het hy ontspan en na my toe gekom, soos altyd. Die man kon sy oë nie glo nie."
Barenda was die afgelope week op Hartenbos en het haar afspraak met Carel nagekom. Sy sê die bekroonde Suid-Afrikaanse dokumentêre film, My Octopus Teacher is vir haar betekenisvol, omdat dit haar ervaring ook beskryf. In dié film, vorm 'n man van Kaapstad 'n besonderse band met 'n seekat.
Kenners van die Dias Museum se akwarium het in hulle kommentaar gesê dat dit nie ongewoon is vir seekatte om verhoudings met mense aan te knoop nie, aangesien hulle baie nuuskierige, intelligente en sosiale diere is.
Die "hart" van Hartenbos, 'n rotsvormige poel waar Carel die seekat woon.
'n Blye ontmoeting verlede week.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'