MOSSELBAAI NUUS - Die Seekadette verbonde aan die TS Outeniqua in Mosselbaai is waar jongmense benewens seemanskap, blootgestel word aan dissipline, kameraadskap en leierskap.
Hierdie groep het onlangs hul jaarlikse kamp gehou wat afgesluit is deur 'n uitreikaksie na die gemeenskap van Sonskynvallei waartydens heerlike eetgoed met die inwoners gedeel is.
Die opleiding, vaardighede en ervaring wat die kadette by die TS Outeniqua onder leiding van lt (SC) Thurston Amsterdam, die bevelvoerder en sy span offisiere opdoen, berei hulle goed voor vir maritieme loopbane, terwyl die dissipline waaraan hulle onderhewig is en wat gou 'n lewenswyse word, 'n plus is sou hulle daarin slaag om by die SA Vloot aan te sluit.
Met slegs beperkte geleenthede in die maritieme diens jaarliks, kyk baie seekadette na die watervlerk van die SA Polisiediens (SAPD) of selfs ander SA Nasionale Weermag (SANW)-dienste vir toekomstige loopbane.
Die TS Outeniqua het reeds daarin geslaag om talle seekadette by die Lawhill Maritieme Sentrum in Simonstad te plaas.
'Ons bring jou die nuutste Mossel Baai, Tuinroete nuus'