MOSSELBAAI NUUS - Dorpsgebiede is ewigdurende veranderende entiteite wat deur verskeie dorpsbeplanning dokumente en wetgewing gerig en bestuur word.
Die veranderende behoeftes van gemeenskappe vereis dat dokumente wat besluitneming rig noodwendig hersien en opgedateer moet word om relevansie te verseker om 'n vooruitstrewende en volhoubare Mosselbaai te verseker.
Die volgende beplanningswetgewing en dokumente word opgestel of gewysig:
- Mosselbaai-munisipaliteit: Verordening op Munisipale Grondgebruiksbeplanning, 2015 (soos gewysig).
- Mosselbaai-munisipaliteit: Geïntegreerde Soneringskema Verordening, 2018 (soos gewysig).
- Mosselbaai-munisipale Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk, 2022.
- Da Nova Mediese Oorlegsone.
Wysigings word voorgestel met observasie van ontwikkelingspatrone asook insette van die provinsiale departement van ontwikkelingsbeplanning en persone wat daagliks met beplanningswetgewing werk soos argitekte, stadsbeplanners en ontwikkelaars.
Beplanningswetgewing word saam met ander wetgewing gebruik om grondgebruik te reguleer.
Daar moet verseker word dat ordelike ontwikkeling plaasvind en daarom is wetgewing nodig om nie net riglyne en regte te skep nie, maar ook om regte te beskerm.
Alle voorgestelde wysigings het ten doel om 'n platform te skep waarbinne 'n beter funksionering van die stedelike en landelike gebied bewerkstellig kan word. Insette van die publiek word verwelkom aangesien dit kan bydrae tot positiewe ontwikkeling van die omgewing waarbinne gemeenskappe beweeg, werk, woon en sosialiseer.
Publieke deelname
Kennisgewings oor die voorgestelde wysigings sal gepubliseer word in die Mossel Bay Advertiser op Vrydag 7 Mei 2021. Die volledige beskrywing en detail oor die publieke deelnameprosesse sal vervat word in die kennisgewings.
Publieke deelnamesessies sal gehou word op die volgende tye en plekke ten einde die publiek die geleentheid te gee om insette te lewer rakende die voorgestelde wysigings:
- KwaNonqaba Gemeenskapsaal – Dinsdag 11 Mei om 17:30.
- Greenhaven-gemeenskapsaal, Groot-Brakrivier – Woensdag 12 Mei om 17:30.
- Mosselbaai-stadsaal – Donderdag 13 Mei om 17:30.
Alle Covid-19-protokol sal gevolg word tydens die openbare deelnamesessies en persone word versoek om ten alle tye maskers te dra.
Daar moet ook in ag geneem word dat, weens die Covid-19-regulasies, slegs 'n beperkte aantal persone geakkommodeer kan word in die gemeenskapsale.
In die geval waar die sale se kapasiteit bereik word, sal diegene wat nie die sessies kon bywoon nie versoek word om hulle kontakbesonderhede te verskaf sodat alternatiewe reëlings getref kan word om enige navrae rakende die wysigings per afspraak, e-pos of telefonies te hanteer.
Enige navrae rakende die wysigings proses kan per e-pos gerig word na admin@mosselbay.gov.za vir aandag Stadsbeplanning of telefonies by 044 606 5000.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'