Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Meagan Roberts slaan nog steeds haar hande saam oor haar puik matriekuitslae.
Op die vooraand van haar vertrek om haar studies in B Com Rekeningkunde aan die Universiteit Stellenbosch te begin, beken sy dat haar gemiddeld van 91% voorwaar 'n verrassing was.
Sonder 'n beurs, sou Meagan nie kon gaan studeer om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word nie.
Om egter sewe onderskeidings in die eindeksamen te verwerf na 'n skooljaar soos 2020, het sy nooit kon droom nie.
"Die aand voor die uitslae het ek nog gebid dat ek tog net 70% moet hê om in aanmerking vir die werwingsbeurs by Stellenbosch te kom." Sy het 'n konserwatiewe verwagting tydens die eksamen gehad.
Meagan vertel dat sy byna histeries was toe die skole verlede jaar vanweë Covid-19 sluit. Maar emosie het haar duidelik nie lank lamgelê nie.
Sy het harder as ooit tevore gewerk en haarself aan 'n moordende skedule onderwerp.
Kyk 'n video hieronder:
"Ek het alles ingesit. Naweke opgegee, slaap opgegee. Baie vraestelle uitgewerk en YouTube-videos gekyk. Alles waarop ek my hande kon lê. Ek het my onderwysers gepla, selfs na-ure. Hulle het uit hulle pad gegaan om te help."
Van WiFi was daar in haar huis, waar sy die enigste kind is, geen sprake nie. "My kerk het my met data gehelp."
Sy vertel ewe skaam dat sy op laerskool nie eintlik 'n uitblinker was nie, maar op hoërskool, toe vat sy vlam en word bykans elke jaar die toppresteerder in haar graad.
Die belangrikste boodskap wat sy aan ander leerders wil oordra is dat hulle nooit moet toelaat dat hulle omstandighede hulle terughou nie.
"Ek weet dis soms 'n cliché, maar dis die waarheid. Daar is hoop. Doen net jou beste."
Geloof was vir haar deurslaggewend. Sy het gevas en gebid. "Hou vas aan iets wat groter as jyself is, 'n goddelike krag. "Haar grootste droom van kleinsaf sê sy, is om deel te word van die humanitêre organisasie, Gift of the Givers. "Elke keer as ek hulle in die koerant of op televisie sien, dan dink ek 'eendag wil ek deel daarvan wees'. Ek wil teruggee aan my gemeenskap. Ek weet mos waar ek vandaan kom en die probleme wat ons het, die omstandighede waarin ons is."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'