MOSSELBAAI NUUS - Inwoners is bewus van die los sand wat telkens met swaar reën oor die N2 tussen Groot Brak en Klein Brak spoel en veroorsaak dat die pad glad en onrybaar word.
Die stuk pad op die N2 word dan gesluit om die sand op te ruim.
Mossel Bay Advertiser het die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) gevra of daar enige projekte in die pyplyn is om die situasie aan te spreek.
Keenan Walbrugh, SANRAL Projekbestuurder, sê SANRAL het reeds positiewe gesprekke met die onderskeie grondeienaars van die probleemgebiede gehad. Dit sluit in een privaateienaar, die Mosselbaai-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering. Opdrag vir 'n gesamentlike, permanente ontwerpplan is gegee en daar is reeds met die proses begin.
SANRAL is ook besig om te kyk na tydelike oplossings om die impak op motoriste te beperk tot die konstruksie afgehandel is.
Volgens Walbrugh kan hulle nog nie bepaal hoe lank die hele proses sal duur nie. Die tydsduur hang af van die ontwerp wat uiteindelik goedgekeur word.
Die Advertiser het ook navraag gedoen oor die gevaarlike situasie op die N2 vanaf die Danabaai-robot op Louis Fourieweg na Kaapstad waar daar nie padtekens is om die afrit na die N2 rigting George aan te dui nie en ook nie genoegsame padtekens is om verkeer te waarsku dat die eerste afdraai na regs 'n oprit is vanaf N2 George na Heiderand en Danabaai. Dit is dié verwarring wat waarskynlik gelei het tot die kop-teen-kop botsing tussen twee busse, op Sondagoggend, 21 Mei.
Walbrugh, sê goedkeuring is reeds verkry om oorhoofse padtekens in die huidige finansiële jaar aan te bring. Walbrugh sê SANRAL vervang gereeld die tydelike padtekens wat gevandaliseer en gesteel word en het hul sekuriteit in die gebied opgeskerp om die infrastruktuur te beskerm en die paaie sodoende veilig te hou.
Daar is ook nie duidelike padtekens op die N2 vanaf rigting Kaapstad of in die teenoorgestelde rigting dat hier 'n afrit is na die N2 George toe nie. 'n Ford Icon het hier voor 'n ander voertuig ingedraai wat gelei het tot die dood van ses mense en 12 beserings.
Die oprit vanaf die N2 George na Louis Fourie en Danabaai met geen oorhoofse borde of padtekens om rigting aan te wys nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’