TUINROETE NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste het op Donderdag, 7 Maart by die Kobus Hattinghsaal (Glentana) bymekaargekom om kennis te maak met die shiitake-sampioen en die veelsydige gebruike daarvan.
SharLeBel kweek shiitake-sampioene en hulle visie is om 'n kookkuns-ervaring te skep wat boonop 'n fees vir die oog sal wees. Hierin het hulle uitmuntend geslaag.
Die demonstrasie is grotendeels deur Charlene van Niekerk van SharLeBel behartig. 'n Gepiekelde shiitake-sampioen-, aarbei-en-swartwoudhamslaai, bedien met 'n songedroogde-tamatiebeskuitjie is gedemonstreer. Daarna is polenta-sirkels met aspersies, soet- en-suur-shiitake-sampioene en parmesankaas bedien. Die hoofgereg was pêrelgort met 'n shiitake-sampioensalsa, bedien op 'n swart hummus met gepiekelde soetrissie en gerookte shiitake-beskuitjies.
Elma Bosch het die heerlike nagereg, vrugtesjokoladestukke met ment, gedemonstreer en Lenette van Wyk het 'n shiitake-biltong proe aangebied.
Kevin Floyd van Houtbosch Wyne het hul sauvignon blanc, zephanie, chardonnay, pinotage en cabernet sauvignon te proe aangebied om hierdie geregte te komplementeer. Waarlik uitstekende proepasmaats.
Die SharLeBel-vroue is van links na regs: Charlene van Niekerk, Lenette van Wyk en Elma Bosch.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'