MOSSELBAAI NUUS - Tydens 'n spesiale raadsvergadering op Maandag, 14 Januarie het raadslede eenparig die aanbeveling van die onafhanklike kommissie vir vergoeding van openbare ampsbekleërs vir 'n algemene salarisaanpassing van sowat 4% vir raadslede goedgekeur.
Mosselbaai word met in agneming van inkomste en inwonertal as 'n graad 3-munisipaliteit geklassifiseer.
Ingevolge die aanbeveling sal aanpassings op die hoogste kerf van salarisse, toelae en ander voordele vir lede van die munisipale raad van krag word sodra die LUR vir plaaslike bestuur, minister Anton Bredell die aanbeveling goedkeur.
Hoewel die selfoontoelae van R3 400 en datatoelae van R300 per maand asook ander byvoordele onveranderd bly, sal 'n algemene salarisaanpassing, terugwerkend tot Julie 2018 van krag word.
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, se salaris sal verhoog tot R827 749.
Die onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé, se salaris word aangepas tot R662 200. Die Speaker, raadsheer Petru Terblanche sal vervolgens R662 200 verdien.
Raadslede wat in die burgemeesterskomitee dien sal R620 813 verdien.
Gewone raadslede se salarisse verhoog tot R261 952.
Ampsmotor
Intussen het die munisipale woordvoerder, Colin Puren bevestig dat die munisipaliteit 'n nuwe ampsmotor vir die burgemeester aangeskaf het.
"Die vorige ampsmotor, 'n Mercedes Benz is reeds meer as 14 jaar oud en het begin om heelwat probleme te gee. Dié voertuig is onlangs met 'n Volkswagen Tiguan vervang," aldus mnr Puren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'