MOSSELBAAI NUUS - Ronald Dale Harmse (50) van Gauteng, die man wat 'n sakeman van Oudtshoorn uit meer as 'n halfmiljoen rand bedrieg het deur hom as advokaat voor te doen en in April in die Oudtshoorn-streekhof 23 jaar tronkstraf opgelê is nadat hy skuldig bevind is, staar nog 'n vonnisoplegging in die Mosselbaai-streekhof in die gesig.
Harmse, met 27 vorige veroordelings waaronder talle vir diefstal en bedrog het in Februarie 2020 vir Matthys Slabbert uit R535 000 bedrieg.
Slabbert het getuig dat hy die geld op Harmse se versoek vir veilige bewaring in 'n trustrekening inbetaal het wat die beskuldigde aan hom verskaf het. Hy het ten spyte van Harmse se beloftes, nie 'n sent teruggekry nie.
Volgens Slabbert was hy ook nie bewus van eiendom wat Harmse glo in Gauteng vir R950 000 gekoop en 'n deposito van R475 000 daarop betaal het nie.
Harmse is drie jaar tronkstraf opgelê omdat hy hom as advokaat voorgedoen het, 15 jaar vir bedrog en vyf jaar vir geldwassery.
Die vonnisoplegging in die Mosselbaai-streekhof vind op 3 Mei plaas. Dit hou verband met bedrogklagtes op Mosselbaai waarmee Harmse verbind word asook 'n aanklag teen hom nadat hy uit die Mosselbaai-polisiestasie se aanhoudingselle ontsnap het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'