MOSSELBAAI NUUS - "Sport het 'n belangrike rol om te speel in sosiale integrasie en ekonomiese ontwikkeling. Ons het as individue, gesinne, organisasies, besighede en as plaaslike owerhede die verantwoordelikheid om aktief eienaarskap daarvan te neem," sê die oud Springbokkaptein Jean de Villiers wat as gasspreker by die Mosselbaai Besigheidskamer se Streekkonferensie, wat vandeesweek op Donderdag en Vrydag in Mosselbaai plaasvind, gaan optree.
Na verwagting sal die konferensie bygewoon word deur verteenwoordigers van dorpe in 'n 280 kilometer radius.
Dit is 'n uitvloeisel van die 2016 konferensie wat deur die Mosselbaai Besigheidskamer gereël is en deur 190 afgevaardigdes van verskillende sektore soos toerisme, landbou, die petrochemiese bedryf en hawe-ontwikkeling bygewoon is.
“Ons het vanjaar die net wyer gegooi en dorpe binne ’n radius van 280 km van Mosselbaai na die konferensie genooi om hul uniekheid en beste praktyke met ons te kom deel,” sê Fanus Truter, voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer.
Landbou is een van die streek se belangrikste ekonomiese komponente en na verwagting sal interessante voorstelle soos die oprigting van ‘n aanleg vir die verwerking van granate en/of amandels toegelig word.
Omdat die Suid-Kaap waterarm is, kan onder meer na hierdie gewasse, wat minder water benodig, vir landbou-ontwikkeling gekyk word.
Nog ‘n voorstel wat na verwagting aangespreek sal word, is voldoende verkoelingsgeriewe by die Mosselbaai hawe.
Die hawe is een van agt kommersiële hawens in Suid-Afrika, maar word nie optimal benut nie weens gebrekkige geriewe.
Die besprekings en aanbiedings sal deur die mediaspesialis en voormalige redakteur van Die Burger en die reistydskrif Weg, Bun Booyens gefasiliteer word.
Minki van der Westhuizen van Boer Soek ‘n Vrou-faam sal die uitdagings van die televise- en filmbedryf en die moontlikhede wat dit vir hierdie area inhou, met die konferensiegangers deel. Volgens haar is daar altyd geleenthede, dit moet net raakgesien en benut word.
Verskeie kwelvrae uit die verskillende sektore sal bespreek word.
Belangstellendes kan navraag rig aan admin@mosselbaychamber.co.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'