MOSSELBAAI NUUS - As "bloubloed" deur jou are vloei en jy 'n passie vir mense en hul veiligheid het, dan is daar net een beroep vir jou en dis om 'n polisieman te wees.
Só 'n man het vir 33 jaar diep spore in die polisie getrap en is onlangs bevorder tot die rang van luitenant-kolonel. Hy staan sedert 1 Oktober aan bevel van die Mosselbaai-polisiestasie.
Luitenant-kolonel A September, Seppie, soos almal hom ken, is 'n boorling van Dysselsdorp, duskant Oudtshoorn.
Tydens lt kol September se loopbaan het hy baie te doen gehad met visuele polisiëring. Hy het reeds by verskeie geleenthede as bevelvoerder ingestaan en is vertroud met misdaad, skofte, CAS, speurders, misdaadvoorkoming, gemeenskappolisieforums, buurtwagte, reserviste, asook samewerking tussen die publiek en die munisipaliteit.
"Ek sal die visie van hierdie stasie en die nasionale SAPD bly uitdra. Ons wil die beste diens lewer aan die kliënte binne Mosselbaai se polisiëringsarea deur middel van die aanspreek van misdaad, asook die oorsake en redes daaroor." Hy stel misdaadvoorkoming voorop, asook die sekuriteit, veiligheid en gemak van die gemeenskap.
"Ons fokus is om die enige misdadige optredes te ondersoek wat die vooraf genoemde bedreig. Ons wil die skuldiges arresteer en suksesvol voor die hof bring vir skuldigbevinding en vonnis.
"Ek vra die publiek om te onthou dat ons hulle bedien met alles tot ons beskikking. Met mannekrag en hulpbronne en dat hulle ons met geduld, begrip en integriteit sal hanteer. Ons versoek ook dat hulle ons dienste deurentyd evalueer, sodat ons ons diens aan die publiek kan verbeter," sê lt kol September.
Van een ding is hy baie seker en dit is dat elkeen met respek, onpartydigheid, eerlikheid en openlikheid behandel sal word. Hy sal ook geen korrupsie toelaat by sy stasie nie en sal dit uitroei deur enige oortreder te vervolg.
Vir hom, is kinders en vroue se regte baie belangrik. "Ons strewe om misdade teen vroue en kinders te verminder en om hierdie slagoffers te ondersteun."
Luitenant-kolonel September, wat self 'n ouer is, sê dat hy voel baie sterk oor die veiligheid van kinders en sal sorg dat skole gereeld besoek sal word.
Hy is 'n voorstander van programme wat betrekking het op huidige tendense onder die jeug soos bendes, dwelms, alkoholmisbruik en so meer.
Luitenant-kolonel September bedank almal vir hul hulp en bystand om sy hand te sterk.
"Met die die feesseisoen voor hande en as 'n kusdorp, sal ons sekerlik weer oorval word met toeriste en vakansiegangers. "Ons vra inwoners se geduld en samewerking in die feestyd. Met die gemeenskap se samewerking, kan ons 'n verskil maak sodat ons almal sover moontlik veilig kan voel."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'