MOSSELBAAI NUUS - Die wêreld se groot oorloë soos die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, asook die Koreaanse Oorlog mag dalk vir party na 'n leeftyd gelede voel, maar die heldedade van diegene betrokke in hierdie gewapende konflik, leef voort.
Soos die van luitenant Roelof Michiel du Plooy, 'n bomwerpervegvlieënier in die Koreaanse Oorlog, wat in 1951 vermis geraak het.
The Silver Star, 'n hoogaangeskrewe medalje wat in opdrag van die President van die Verenigde State van Amerika vir hoogste dapperheid in wêreldoorlogstyd aan geallieerde magte onder Amerikaanse beheer toegeken word, is in 1951 postuum aan Du Plooy, 'n lid van die Suid-Afrikaanse Lugmag toegeken. Dié prestige toekenning vir Du Plooy se heldedaad op 23 Julie 1951 in Noord-Korea, aan sy weduwee, Bridget Waddington-Du Plooy, oorhandig.
Hy het man-alleen heldhaftig met sy eensitplek F51-Mustang-bomwerpervegvliegtuig (nommer 338), 45 minute bo sy medevlieënier wat afgeskiet is en wat met 'n valskerm geland het, 'n sirkelvlug gedoen om hom te beskerm totdat hulp kon opdaag om hom op te pik. In daardie stadium, is Du Plooy se vegvliegtuig ook afgeskiet. Hy is aanvanklik as vermis aangemeld, maar is uiteindelik nooit weer gevind nie. Sy ouers het op die plaas Eikenhof in die Ida-distrik, nou Transkei die tyding per telegram gekry. Hy sou vanjaar nege en negentig jaar oud gewees het.
Mannemoed
Du Plooy, wat die bynaam Roy gekry het vanweë sy rooi hare, was reeds gedurende die Tweede Wêreldoorlog as vegvlieënier in diens van die Geallieerde Magte.
Hy was bekend vir sy manmoedigheid. As deel van Twee (2) Eskader, SA Lugmag, Agtiende (18de) Gevegsbomwerpervleuel, was vegvlieënier Du Plooy op 'n weerverkenningsmissie oor die weskus van Noord-Korea. Kaptein FM Bekker, tweede luitenant DAR Green en tweede luitenant MIB Halley, as lede van dieselfde eskader, was deel van hierdie missie.
Op 'n besondere lae vlughoogte as gevolg van slegte weerstoestande, is 'n belangrike padbrug in die rivierarea van Imjin Gang suksesvol deur dié vlieëniers vernietig. Tydens die sending is leiervlieënier Bekker se vliegtuig met die uitstyg net bokant 'n heuwel deur grondvuur getref en het in vlamme neergestort. Sy vleuelvlieënier, Halley, moes sy uitskietstoel gebruik toe hy ongeveer drie en twintig myl noord-oos van Kaesong, Noord-Korea ook afgeskiet is.
Terwyl die derde vlieënier, Green, hulp gaan haal het, het Du Plooy sy medevlieënier Halley beskerm deur grondlangs rondom hom op die vyand te skiet, ten spyte van die wolkbasis wat sig erg belemmer het. Grondvuur was intens en akkuraat, maar Du Plooy het strykdeur luggevegpatrollering toegepas.
Gedurende die vyf en veertig minute, waartydens daar sonder ophou op sy vliegtuig geskiet is, is sy medevlieënier gevange geneem deur die Noord-Koreaanse magte.
Du Plooy het berig dat sy ammunisie op is. Minute later, met die reddingshelikopter slegs 'n paar kilometer weg, is sy laaste boodskap ontvang.
Daar is nooit weer van hom gehoor nie, hoewel sy vliegtuig se wrak later wel opgespoor is.
Herinneringsdag
Familielede van Du Plooy woon op 14 November die Herinneringsdagparade by die Punt se senotaaf by, waar hulle vir hom 'n krans sal lê.
Vanjaar bied die Blaize Away MOTH-bomskuiling die parade aan.
Nuut tydens die geleentheid, is 'n uitstalling en demonstrasie deur radio-amateurs. Ou militêre radios maak ook deel van die uitstalling.
Die formaliteite begin om 10:30. Gaste word versoek om hul eie stoel vir die seremonie te bring. Tydens die seremonie sal 'n miniatuur-kanon afgevuur word, wat die begin en einde van die twee minute van stilte om afgestorwe soldate te gedenk, aan te dui.
Registreer om die geleentheid by te woon deur http://www.lest-we-forget.co.za te besoek en sodoende aanlyn te bespreek. Aanlynregistrasie sluit op 12 November.
Registrasie kan ook op die dag vanaf 10:00 gedoen word. Vir meer inligting, kontak Moth Anthony van Tonder (blaizeaway.adj@gmail.com).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'