MOSSELBAAI NUUS - Drie rylopers is omstreeks 16:00 op Vrydag 28 September op die N2 deur drie onbekende mans met messe gedreig en van 'n groot bedrag kontant en twee selfone beroof.
Die rowers, wat ook te voet was, het toe in die rigting van die Shell-vulstasie in Voorbaai beweeg en die slagoffers het besluit om hulle te agtervolg.
By die vulstasie het die slagoffers sig verloor van twee van die rowers. Die derde rower is egter voorgekeer en 'n skermutseling het ontstaan tussen die slagoffers en die rower.
In dié onderonsie is een van die slagoffers deur die rower met 'n mes in die bobeen gesteek. Op daardie stadium het 'n blou voertuig by die groep mans stilgehou en die rower het in hierdie voertuig gespring en die voertuig het weggejaag.
Die Da Gamaskop-polisiestasie ondersoek 'n klag van roof met 'n wapen anders as 'n vuurwapen, asook 'n klag van aanranding ernstig.
Die polisie het op die voertuig beslag gelê nadat dit Vrydagaand in 'n botsing in KwaNonqaba betrokke was. Teen die ter perse gaan was die verdagtes steeds op vryevoet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'