MOSSELBAAI NUUS - Leerders van Ruitersbos Laerskool het onlangs begin jukskei speel. Dié plaas- en bosbouskool is sedert 1915 besig met die onderrig van kinders uit die Leeukloof en Ruitersbos gemeenskap.
Die skool het tans 88 leerders met drie departementele- en een beheerliggaam onderwyser.
Die natuurlike talent wat Quilin Witbooi, Jamie Madola, Shurwin Pietersen en Lucritia McComring aan die dag lê is ongelooflik. Lucritia het reeds 'n natuurlike draai in haar gooi.
Dit is 'n tegniek wat selfs sommige ervare spelers nooit bemeester nie. Storm sterkte winde en dreigende swaar reën verhoed nie hierdie talentvolle kinders om die een pen na die ander te gooi nie.
Die skoolhoof, mnr EA Lewis beklemtoon die belangrikheid van sport in die ontwikkeling van jong kinders. Jukskei is 'n sport waar koördinasie, fokus, dissipline, beplanning en fiksheid gekombineer word en is dus 'n ideale sport vir kinderontwikkeling.
As deel van die jukskei ontwikkeling in Eden het Bossie Boshoff (SA jukskeispeler en onder-voorsitter van die Eden Distrik Jukskei Federasie) met 'n aksie begin om jukskei by die omgewing se skole te bevorder.
Die Ruiterbos-leerders benodig twee jukskei sandputte.
Bossie Boshoff het in die omgewing groot geword en skool gegaan in 'n twee vertrek skooltjie op Leeukloof. Hy sê Eden Distrik Jukskei Federasie hoop om binnekort meer skole van die omgewing te betrek. Die skeie is egter duur en borgskappe word dringend benodig om skeie te borg en bane te ontwikkel.
Tané Schutte, die skool se sport koördineerder het Eden Distrik Jukskei Federasie hartlik bedank vir die skeie wat deur hulle geskenk is. Vervoer is egter 'n groot probleem vir die skool.
Van die belangrikste behoeftes wat die skool benodig is twee sandputte, skeie, penne, vervoer na sportgeleenthede en ervare spelers wat bereid is om te help met die afrigting.
Belangstellendes wat hierdie skool wil help met hul sport en jukskei ontwikkeling kan sekretaris mnr G Goliath of die sport koördineerder Tané Schutte kontak (044 631 0033) of per e-pos: ruiterbosprim@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'