MOSSELBAAI NUUS - Wetenskaplike navorsing het bevind dat die brand wat op 21 Januarie in Hartenbos Heuwels ontstaan en groot skade aangerig het, het op privaat eiendom ontstaan.
Die eienaar van dié grond sal vir die brandrekening aanspreeklik gehou word.
Boonop het die navorsing deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap (SANSA Earth Observation) bevind die ontstaan van die brand om ongeveer 11:27 was direk in die area waar gebrande koperkabels en 'n gaskan na die brand gevind is.
Volgens die woordvoerder van die Da Gamaskop-polisiestasie, kapt Wollie Fourie, is geen klagte van brandstigting sedert die brand aanhangig gemaak nie.
SANSA se navorsers het verskeie satellietbeelde ingespan om die ontstaan, die oorsprong en verspreiding en uiteindelike omvang van die brand te karteer. Verskeie beelde oor 'n verloop van tyd deur 'n aantal satelliete is vir die navorsing gebruik. Die beelde is van die European Organisation for Metreological Satellites (EUMESAT) Portal bekom. Om die omvang en verspreiding van die brand te bepaal, is aanvanklik MODIS, en daarna die Meteosat Second Generation (MSG) data ingewin.
Vir die Gevorderde Brandinligtingstelsel (AFIS) om op MODIS 'n brand te identifiseer, moet dit 'n omvang van 50 vierkante meter hê. Vir die MSG-stelsel om 'n brand te identifiseer, moet die omvang reeds sowat 500 vierkante meter wees.
'n Deegliker analise is ook met Sentinel-data gedoen wat die navorser in staat gestel het om die area waar die brand gewoed het spesifiek te bepaal.
Die laaste satellietbeeld op 22 Januarie het die uiteindelike voetspoor van die brand, wat ongeveer 141.5 hektaar beslaan, duidelik gekarteer.
Die voetspoor van die brand op 21 Januarie, soos binne die swartlyn in rooi aangedui en soos deur die SANSA satellietdata bevestig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'